Jesus het opgestaan! Wat nou?

  • 0

Jesus het opgestaan! Wat nou?

“Jesus het opgestaan!”, groet een gelowige. “Hy het wáárlik opgestaan”, antwoord die ander een. Dit is hoe medegelowiges mekaar deur die eeue op Opstandingsondag groet.

Ons groet mekaar vrolik asof die betekenis van Jesus se opstanding vir ons almal ooglopend is. Maar ek is bevrees dat die implikasie van dit wat ons sê níe vir almal ewe duidelik nie. Dit het vir baie van ons blote kerktaal geword…

Daarom verken ons in hierdie plasing 7 Geïmpliseerde waarhede as ons sê “Jesus het opgestaan!

1.) Die opstanding bring jou voor ‘n keuse.

Volgens Paulus is dit die opstanding wat Jesus in ‘n klas van sy eie sit. Paulus sê: “…op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here” (Rom 1:4)

Die wysgeer C.S. Lewis skryf in sy klassieke boek “Mere Christianity” oor die keuse waarvoor elke persoon te staan kom:

“I am trying here to prevent anyone saying the really foolish thing that people often say about Him: ‘I’m ready to accept Jesus as a great moral teacher, but I don’t accept His claim to be God.’ That is the one thing we must not say. A man who was merely a man and said the sort of things Jesus said would not be a great moral teacher. He would either be a lunatic—on a level with the man who says he is a poached egg—or else he would be the Devil of Hell. You must make your choice. Either this man was, and is, the Son of God: or else a madman or something worse. You can shut Him up for a fool, you can spit at Him and kill Him as a demon; or you can fall at His feet and call Him Lord and God. But let us not come with any patronizing nonsense about Him being a great human teacher. He has not left that open to us. He did not intend to”.

Die opstanding los vir my en jou dus ook voor ‘n keuse. Die keuse is: “Wat en Wie sê ék is Jesus?”. Toe Tomas met die opgestane Jesus gekonfronteer is, het hy ook ‘n besluit gemaak. Tomas het uitgeroep:“My Here en my God!” (Joh 20:28).

2.) Die opstanding besweer jou vrees vir die dood.

Omdat Jesus die dood oorwin het, verloor die dood ook sy greep op ons. Dit raak besonder betekenisvol vir óns wat iemand al aan die dood afgestaan het. My oupa is byvoorbeeld 10 maande gelede oorlede. Hy was ‘n gelowige en ons mis hom vreeslik. Maar ons gaan hom beslis weer sien.

Wanneer jy as gelowige by die voordeur van die dood instap, kan jy as’t ware doodluiters by die agterdeur uitstap. Die dood is nie meer ‘n tronk wat jou vashou nie. Jesus het die doderyk geplunder en in ‘n puinhoop gelos. Jy stap gewoon by dieselfde plek uit waar Jesus die gat in die muur gelos het.

Daarom kan ons nou saam met Paulus uit volle bors skree: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15:55).

3.) Die opstanding beteken Jesus treë nou vir jou in.

Wat doen Jesus nou op hierdie oomblik? Het jy al daaroor gewonder? Baie mense dink aan Jesus asof Hy een taak gehad het en toe “afgetree” het.

Maar die Bybel sê dat Jesus nog voltyds aan die werk is. Paulus skryf byvoorbeeld: “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons”. (Rom 8:34).

Ons vind dieselfde gedagte by die Hebreërskrywer: “Hy (Jesus) lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree” (Heb 7:25). Jy hoef nie jou tyd te mors om met afgestorwe familielede te praat of om engele om te koop om vir jou ‘n goeie woordjie by die Skepper van die heelal in te sit nie. Jesus se opstanding beteken dat jy nou ‘n verteenwoordiger in die troonkamer van die Hemel het!

4.) Die opstanding bemaak aan jou ‘n nuwe lewe.

Kom ons dink vir ‘n oomblik na oor hierdie vreeslike interessante ding wat Paulus sê: “Nou lewe Hy (Jesus), en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (Rom 6:10-11)

Hieruit vers noop ons tot die volgende gevolgtrekking:

  • Jesus lewe vandag.
  • Hy sit sy lewe voort in ons.
  • Omdat Jesus vir die Vader leef, en nou in ons leef, leef ons ook nou vir die Vader.

C.S. Lewis skryf in “Mere Christianity” die volgende: “He is beginning to turn you into the same kind of thing as Himself. He is beginning, so to speak, to ‘inject’ His kind of life and thought, His Zoe, into you; beginning to turn the tin soldier into a live man.

5.) Die opstanding bemagtig jou om uit sonde op te staan.

Een van die dwalinge wat in die gemeente van Galasiërs posgevat het – en wat Paulus deur sy brief aan hulle wil regstel – is hulle begeerte om die Here te dien…uit hulle eie krag.

Dit is ‘n strik waarin ons almal een of ander tyd val. Jy word bewus van sonde in jou lewe en jy dink jy moet net harder probeer om daarvan los te kom. Wanneer dit nie werk nie, dink jy dat jy jou wilskrag net nog meer moet inspan. As dit nog steeds nie werk nie, dink jy dat jy net jou toewyding aan die Here moet verhoog. Alles kom neer op dieselfde ding: Ek probeer ‘n lewe leef wat God behaag, uit my eie krag.

Dit kan nooit werk nie. Paulus het nie ‘n goeie woord hiervoor te spaar nie. Hy roskam die Galasiërs en sê: “Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig?”.

Vir Paulus is daar net antwoord: “…ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:19-20). Ons is nie veronderstel om ‘n lewe te leef wat God behaag nie. Ons is veronderstel om Christus ín ons, toe te laat om namens ons daardie lewe te leef.

‘n Beeld om jou te help: Stel jou voor jy sit in ‘n vullishoop vas. Dit stink gruwelik en alles klou aan jou vas. Die gemors stel jou sonde voor waaruit jy wens jy kan opstaan en van kan loskom. Maar jy kry dit nie reg nie. Net wanneer jy tot op jou knieë kom, gly jy op die slym en smerigheid en val jy weer tot op jou maag. Jy probeer male sonder tal om uit jou eie krag uit die gemors uit op te staan – elke keer sonder sukses. Toe jy vir die soveelste keer met jou gesig in die drek te lande kom, bid jy dat Jesus in jou sal opstaan. Jy probeer weer opstaan. Hierdie keer gee jy jou liggaam oor aan Jesus se bewegings binne in jou. En tot jou verbasing sien jy dat jy stadig maar seker besig is om orent te kom! Eers tot op jou knieë, toe tot op jou hurke, en toe tot op jou voete!

6.) Die opstanding bring God se krag binne jou bereik.

Het jy al daaraan gedink dat daar geen groter krag in die heelal is, as die krag wat dit geneem het om die dood te breek nie? Het die besef al tot jou deurgedring dat daardie einste krag, nóú binne in jou liggaam is?

Paulus skryf in sy brief aan die gemeente in Rome:Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” (Rom 8:11)

Hoe laat dit jou voel as jy hoor dat daar so ‘n reuse krag binne jou jou bereik geplaas is? Vir myself voel dit of ek dadelik wil kyk of ek dit kan ontgin! Miskien is dit juis hoekom Paulus sê: Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind (Fil 3:11).

God se krag is nie meer iets veraf en onbereikbaar nie. Te danke aan die opstanding is dit binne ons bereik geplaas. Baie van die Christelike lewe handel daaroor dat ons moet ontdek hoe dit werk. Ons is byvoorbeeld geneig om te dink dat God se krag soos die wêreld s’n werk. Daarom het ons altyd ‘n versugting na toertjies, kitsoplossings en magsvertoon. Dit neem lank om te ontdek dat God se krag eers in swakheid en broosheid vankrag word. Die kruis en die opstanding is ‘n goeie herinner daarvan.

7.) Die opstanding bevrug jou met belangstelling in die Heilige Gees.

Wanneer mens tot die besef kom dat Jesus die dood oorwin het en nou sy lewe ín ons kom voortsit (Rom 6:10-11; Gal 2:20), dring dit tot jou deur dat die tema van die “opstanding” hand aan hand met die tema van die “Heilige Gees” loop.

Die Heilige Gees is immers niks anders as die Gees van Jesus Christus” (Fil 1:19) nie. Om in verhouding met die Heilige Gees te staan, is nie ‘n onpersoonlike saak nie. Dit is nie asof ons in verhouding met ‘n krag staan nie. Die Heilige Gees is Jesus se Gees!

Wanneer hierdie gedagte tot jou deurdring, besef mens dat daar ‘n avontuur vir jou voorlê waaraan jy nog nooit eens gedink het nie! Begin eksperimenteer! Leer ken die Heilige Gees! Slaan ag op sy teenwoordigheid. Luister na wat Hy vir jou sê. Waag om Hom te gehoorsaam! Nooit vantevore was Jesus se naam “Immanuel” – oftewel “God is met ons” – vir jou só waar soos nóú nie!


  • 0

Wat beteken “Soli Deo Gloria” vir vandag?

‘n Jong dame vertel eendag vir my hoe haar hart gebreek is: Sy het halsoorkop verlief geraak op ‘n man wat belangstelling in haar getoon het. Totdat sy agtergekom het dat hy haar eintlik net gebruik om sy eks jaloers te maak!

Sy vertel hoe hartverskeurend dit vir haar was toe sy agterkom dat hy nooit regtig in haar belang gestel het nie. Sy het vernederd en misbruik gevoel toe sy besef sy was eintlik net ‘n “middel” vir die man se eie agenda.

1.) Soli Deo Gloria

‘n Skildery van Pous Leo X deur die kunstenaar Raphael

Baie dieselfde soort gewaarwording het by Martin Luther ontwaak tydens die reformasie. Hy het ontdek dat die Kerk vir die mense sê dat hul begaan is oor hulle – maar inderwaarheid was die Kerk besig met hul eie agendas.

Vanuit hierdie ontnugtering, het die vyfde “Sola” ontstaan, naamlik: “Soli Deo Gloria”, oftewel “Alleen aan God die eer”. Om te verstaan wat hierdie Sola wou vermag, moet mens die konteks waarbinne dit geformuleer is, beter verstaan.

2.) Konteks van die slagspreuk

Pous Leo die tiende was die Pous ten tye van Martin Luther se reformasieproses. Hierdie Pous was niks beter as sy voorganger, Pous Julius die tweede nie. Dit was asof elke Pous, net meer roemryk as die vorige een wou wees.

2.1) Duur militêre veldtogte vir eie politieke agendas.

Pous Julius was bekend vir sy militêre veldtogte. En daarom wou Pous Leo nie teenoor hom afsteek nie. Hy het duur veldtogte van stapel gestuur “in die naam van die Here”, net om later sy eie nefie as Hertog van die verowerde gebied aan te stel om sodoende sy eie mag te verstewig. Elke oorlog wat só gevoer was vir politieke gewin, was natuurlik befonds vanuit die Kerkkas.

2.2) Aflaatbriewe vir die St Peter’s Basilica

Pous Julius het groot bouwerk aan die “St Peter’s katedraal” aangegaan – iets wat hom baie roem op die hals gehaal het. Pous Leo wil natuurlik nie afsteek nie, en neem ook groot bouprojekte onder sy sorg. Die projekte moet egter van êrens befonds word, en daarom vestig hy toe die gebruik van aflaatbriewe. Mense kon snikke in die blikke gooi, en dan kon daardie geld gebruik word vir die bouery.

Teenoor die mense is egter die indruk geskep dat die Kerk hierdie toegewing maak omdat hulle besorgd is oor die mense se baie sondes. In aansluiting met ons storie van vroeër, is dit sulke misbruik maak van mense, ter wille van jou eie agenda, wat Martin Luther dwars in die krop gesteek het.

2.3) “Beskermheer” van die kunste

Een van die kamers in die Vatikaan.

Pous Julius het baie nou saam gewerk met die kunstenaar Michaelangelo. Saam het hulle baie gedoen vir die ontwikkeling van kuns en die estetiese appél van die Basilica.

Pous Leo wou ook hierin “groter” wees as sy voorganger. Hy het saam met die kunstenaar Raphael gewerk om die kamers van die Basilica te verfraai. Pous Leo wou ten alle koste bekendstaan as die “beskermheer” van die kunste.

Daar is natuurlik niks verkeerd met kuns nie. En vandag is ons baie dankbaar dat die werke van Michaelangelo, Raphael en andere bewaar gebly het. Maar die probleem het ingekom by ego’s. Elke Pous wou “groter” en “beter” wees as sy voorganger. Dit het lankal nie meer gegaan oor God se Koninkryk nie, maar oor elkeen van hulle se eie klein koninkrykie.

Vanuit hierdie konteks, ontstaan die slagspreuk “Soli Deo Gloria”. Die reformatore wou hê dat dit nie oor hulleself moes gaan nie, maar oor die eer van God.

3.) Wat beteken “tot eer van God”?

Ons sou sekerlik hier kon stop en net sê: Ons lewens moet alleen tot eer van God wees. Maar wat beteken dit? Ek is bevrees dit is geykte kerktaal. Kom ons kyk wat dit prakties beteken om “tot eer van God” te lewe.

Die eerste ding wat ons vir mekaar moet sê, is dat vir íets om tot eer van God te wees, moet dit heilig wees! Iets wat “substandaard” is, kan onmoontlik aan God eer bring.

En dit is hier waar gedeeltes soos Romeine 14:6-8[1] en 1 Korintiërs 10:23 ons koppe deurmekaar maak. Hierdie gedeeltes sê dat ons kan “lewe” tot God se eer, ons kan “sterwe” tot God se eer, ons kan “eet” tot God se eer, en ons kan selfs “drink” tot God se eer.

Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God    (1 Kor 10:23)

Hoe is dit moontlik dat hierdie alledaagse dinge, aan God kan eer bring? Dit is tog nie “heilig” nie? Wel, om dit te verstaan moet ons so bietjie ‘n reis deur die Bybel neem om te sien hoe “heiligheid” gewerk het.

4.) Wanneer is iets “heilig” volgens die Bybel?

In die Ou Testament vind ons vier kategorieë van heiligheid. Kom ons kyk daarna:

i) Heilige Tye

In die eerste plek vind mens heilige tye. Die Sabbat was heilige tyd. Dit moes van al die ander dae in die week afgesonder wees.

‘n Antieke sonhorlosie in Israel.

ii) Heilige Plekke

Daar was heilige plekke. Die grondgebied van die tempel sou heeltemal anders wees as die res van Israel.

iii) Heilige Persone

Derdens het jy heilige persone gekry. Die priesters was van die res van die volk afgesonder. Daar is geglo dat God se Gees op ‘n besonderse wyse hulle “heilig” vir sy taak.

‘n Uitbeelding van ‘n priester.

iv) Heilige Voorwerpe

‘n Tipiese antieke kruik

Laastens was daar ook heilige voorwerpe. Dit was byvoorbeeld instrumente wat in en om die tempel gebruik was vir die offerkultus. Die braaitang waarmee die offers op die altaar hanteer is, is byvoorbeeld nie in dieselfde lig gesien as die braaitang by jou huis nie. Die potte by die tempel met met reinigingswater waarmee jy jou hande moes was, was as heilig beskou. Jy kan dieselfde soort kruik by jou huis hê, maar dit gaan nie heilig wees nie.

In die Ou Testament vind ons dus ‘n baie skerp onderskeid tussen die “heilige” en die “alledaagse”. Daar is ‘n skeiding gemaak tussen die “sakrale” en die “profane”.

En toe gebeur daar iets! Daar was ‘n besliste moment wat alles verander het! Die Skrif vertel vir ons dat toe Jesus sy laaste asem op die kruis uitblaas, die voorhangsel van die tempel geskeur het. En die manier waarop dit gebeur het is net so veelseggend: Van bo na onder.

‘n Uitbeelding van die voorhangsel wat skeur.

Die voorhangsel het die allerheiligste van die alledaagse geskei. Die oomblik toe dit skeur, was daar nie meer skeiding tussen hierdie twee nie.

En dit was nie mense wat dit van onder na bo geskeur het, nie. Dit was God wat dit van bo na onder geskeur het. Dit het sy goedkeuring weggedra dat daar voortaan nie meer skeiding tussen die allerheiligste en die alledaagse moes wees nie.

Na afloop van hierdie insident, verander die taal waarmee die Nuwe Testament oor heiligheid praat, drasties…

i) Heilige Tye

Waar daar in die Ou Testament een dag per week vir heilige tyd afgesonder was, sê die Nuwe Testament dat élke dag nou ‘n Sabbat is. Hebreërs 4 sê dat ons nou, vandag, élke dag, in God se Sabbatsrus kan ingaan. Daarmee bedoel die skrywer nie dat ons letterlik nie mag werk nie. Dit beteken ons vertrou nie op ons werke nie. Ons kan “rus”, omdat ons aanvaarding nie meer van ons eie prestasie afhang nie, maar van Christus s’n.

God het immers weer ’n dag bepaal, naamlik “vandag”… Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, 10want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. 11Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan…” (Heb 4:7, 9-11)

ii) Heilige Plekke

In teenstelling met die Ou Testament wat seker plekke as heilig beskou het, sê Paulus: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie?” (1 Kor 6:19)

Volgens Paulus is dit nie meer moontlik om van een “alledaagse” plek, na ‘n “heilige” plek te loop nie. Waar jy ook al loop is dit nou heilig, want jou liggaam is die tempel!

iii) Heilige Persone

In kontras met die Ou Testament waar daar slegs sekere persone was wat heilig was, skryf Petrus: “Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is…” (1 Pet :9)

Sien raak dat Petrus sê “julle”. Dit beteken elke gelowige is nou ‘n priester. Elke gelowige is nou “afgesonder” en word deur die Heilige Gees toegerus vir ‘n taak.

iv) Heilige Voorwerpe

Ook die heilige voorwerpe van die Ou Testament, kry vars betekenis in die Nuwe Testament. Vir die jong Timoteus word daar geskryf[2] dat elkeen wat hom reinig van die kwaad, vir ons eienaar ‘n voorwerp word wat “afgesonder” (lees “heilig”) en “bruikbaar” is. Onsself word dus nou heilige instrumente in die hand van die Here, ons eienaar.

5.) Gevolgtrekking: Alles is nou heilig!

#WegneemGedagte

Wat is die gevolgtrekking waartoe ons kom as ons al hierdie dinge vir mekaar sê? Jesus se versoenoffer aan die kruis het ons waardig gemaak vir die inwoning van die Heilige Gees! Daar is weggedoen met die onderskeid tussen dit wat heilig en dit wat alledaags is. Ons sou goedskiks kon sê: “Omdat Jesus álles van my reinig, is my héle lewe heilig”.

Dink gou bietjie daaroor na: Het Jesus jou vergewe vir wat jy by die werk gedoen het? Natuurlik! Maar dit beteken jou werk is nou heilig.

Het Jesus jou vergewe vir wat jy jou kinders aangedoen het? Natuurlik! Maar dit beteken jou verhouding met jou kinders is nou heilig.

Jesus het jou van álles gereinig. Daarom is jou héle lewe nou heilig. En dit is om hierdie rede dat Paulus vir ons in Romeine 14 en 1 Korintiërs 10 kan sê, dat ons kan “leef tot eer van die Here”, “sterf tot eer van die Here”, “eet tot eer van die Here” en selfs “drink tot eer van die Here”. Enige iets kan nou tot “eer van die Here” gedoen word.

6.) Wat ons níe sê nie…

Ek is bekommerd dat iemand gaan sê: “Nati sê die Here het met die onderskeid tussen heilige en alledaags weggedoen”. En dan verklaar die persoon verontwaardig: “Ek kan nie glo hy sê daar is nie meer iets soos ‘heiligheid’ nie”.

Die “alledaagse” word verhef tot op die vlak van die “heilige”.

Wel, om dit te voorkom, kom ons sê net gou wat ons níe sê nie: Met die wegdoen van die onderskeid tussen die heilige en die alledaagse, het die Here nie die heilige tot op die vlak van die alledaagse verlaag nie. Met die wegdoen van daardie skeiding, het Hy die alledaagse tot op die vlak van die heilige verhef. Álles is nou heilig.

Daar is eintlik ‘n baie treffende profesie in die Ou Testament wat daaroor handel. Die profeet Sagaria profeteer oor die “dag van die Here”, wat natuurlik op ‘n besonderse manier sy vervulling op die kruis vind. Dít was immers die dag wat God se oordeel uitgestort is.

Daardie dag sal daar op die klokkies aan die perde se tuie staan: “Gewy aan die Here”, en die potte in die huis van die Here sal net soos die offerkomme by die altaar wees. Elke pot in Jerusalem en Juda sal aan die Here die Almagtige gewy wees (Sag 14:20-21)

In hierdie treffende profesie sê Sagaria dat elke alledaagse pot, op die dag van die Here, aan Hom nét so gewy sal wees soos die potte in die huis van die Here. Natuurlik praat Sagaria nie hier van letterlike potte nie. Dit is ‘n metaforiese manier om te sê dat dít wat alledaags is, van daardie dag af ook heilig sal wees.

7) Wat is die toepassing?

Waar laat dit ons? Hoe verander ons uitkyk op die lewe as ons hoor dat die “alledaagse”, eintlik vir die Here “heilig” is?

Wel, as ons sê dat alle tyd nou vir die Here heilig is, dan dink ek mag ons onsself afvra hoe rig ons daardie tyd in? Bring dit eer aan die Here? As ons sê dat ons liggame nou ‘n tempel van die Here is, dan dink ek mag ons onsself afvra of ons daardie tempel oppas? Die blote feit dat jy gym, mag iets word waarmee jy God vereer…

Ek dink nie ons besef die grootsheid van die implikasies as ons sê dat letterlik álles wat ons doen, aan die Here eer kan bring nie. Selfs ons sekslewens is heilig. Die Hebreërskrywer sê: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet” (Heb 13:4). Hy verhoog die huweliksbed tot op die vlak van die heilige. En elkeen van ons wat al seks geproe het soos God dit wil hê, sal met die Hebreërskrywer saamstem: Ook seks is heilig.

So ook ons humor en die grappe wat ons vertel. Die manier waarop ons ons kinders grootmaak. Die werksetiek wat jy handhaaf. Die geld wat jy het en hoe jy dit spandeer, kan aan die Here eer bring. So ook die manier hoe ons ons huishulpe betaal en ons kollegas by die werk behandel. Álles is heilig.

Die manier waarop jy probleme en konflik hanteer, kan aan die Here eer bring. Ons het die afgelope week selfs in die nuus gesien dat die manier waarop jy padwoede hanteer, tot eer van die Here kan wees. Óók die manier waarop ons vergewe, kan eer aan die Here bring…

8) Van fragmentasie na integrasie

Fragmentasie lei tot disintegrasie

Gesinsterapeute wat met huwelike werk, sê altyd dat iemand wie se lewe uit kompartemente bestaan, die grootste risiko loop om ‘n huwelik te verongeluk.

Dalk dink die vrou dat haar verhouding met haar Ma – of skoonma – geïsoleerd van haar verhouding met haar man is, en dat dit niks met mekaar uit te make het nie. Maar sy sal verkeerd wees.

‘n Man sou byvoorbeeld kon dink dat die geld wat hy verdien, syne is. Dit het niks met sy vrou te make waar hy dit spandeer nie. So ‘n persoon dink geld is in een fragment van sy lewe en sy huwelik is in ‘n ander. Díe twee het geen effek op mekaar nie. Maar ook dit sou ‘n groot fout wees.

Fragmentasie lei tot disintegrasie. Kort voor lank spat alles uitmekaar. Die ideaal is dat ons soos héél mense sal leef. Die ideaal is dat al die verskilende sektore van ons lewe – al die fragmente – met mekaar geïntegreer sal word.

Integrasie is nodig vir gelukkige huwelike. Integrasie is ook nodig vir ‘n gesonde verhouding met die Here. Kom ek vertel jou ‘n storie wat dit illustreer…

9) Oor gebreekte vliegtuie…

Op ‘n dag kom my seun Christiaan by my aan met twee van sy speelgoed vliegtuigies. Die vlerke het van die romp afgebreek, en hy het met groot vertroue dit na sy pa toe gebring sodat dit reggemaak kon word.

Op hierdie stadium is ek nog sy “hero”. Volgens hom kan ek enige iets doen – en ek wil daardie valse indruk vir so lank as moontlik so hou. Ek probeer dus my bes om dit wat hy vir my gee, reg te maak.

Hierdie spesifieke dag sit hy die vliegtuigies op my skoot neer, met die versoek dat ek dit sal regmaak, asseblief. Maar toe gryp hy die een stel vlerke en hardloop weer buitentoe. Ek roep agter hom aan: “Hey! Waar gaan jy met die vlerke?

Ek wil nog met dit speel terwyl Pappa die vliegtuigie regmaak!”, snou hy my terug. (Partykeer dink ek hy het sy logika by sy Ma geërf). Onthuts skree ek weer agter hom aan: “Maar as jy wil hê dat pappa dit vir jou moet regmaak, moet jy vir pappa al die stukke gee!”. En net toe besef ek dat die Here dieselfde vir ons sê…

So baie keer bid ons: “Here, my lewe gee ek vir U!” (Maar nie my rekenaar waarop ek werk nie). Of “Here, alles in my lewe behoort aan U!” (Behalwe vir die wrok wat ek koester).

Die Here wil hê dat ons héél, geïntegreerde mense sal wees. Maar dan moet ons al die stukke vir Hom gee. Alles van ons is heilig. Elke sfeer van ons lewe kan aan die Here eer bring. En dikwels is dit veral die gedeeltes wat ons van Hom af weghou, wat Hom die meeste kan verheerlik.

Wat in jou lewe, hou jy van die Here weg? Oor watter gedeelte van jou lewe sê die Heilige Gees vir jou: “Laat ook dít aan my eer bring”? Soli Deo Gloria

Amen

 

[1] Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God. Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here (Rom14:6-8)

[2] In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens. (2 Tim 2:20)


Soek ‘n sleutelwoord:

Klik om na preke te luister

Ons kan jou help om deur jou Bybel te lees in net 3 jaar. Klik hier vir meer inligting.

Waar kan ek dien?

Om te dien is een van die heel beste maniere om geestelik te groei. Klik hier vir 'n lys van plekke waar jy jou voorskoot kan aantrek.

Hoe word ek deel van ‘n omgeegroep?

Daar is min dinge wat jou verhouding met die Here so goed kan doen, soos om aan 'n omgeegroep te behoort. Vind uit hoe jy dit kan doen!

‘n Nuwe Reeks!

God vertrou my!May 7th, 2017
Die groot dag het aangebreek

Kerkkantoor

0137511644
Maandae - Donderdae: 08:00-13:00
Vrydae: 08:00-12:30
Sondae na afloop van die oggenddiens

Kaart na ons gemeentesentrum