Category Archives: Visie vir die toekoms

  • 1

‘n Storie oor besoekers.

Mense wat op ‘n vorige Sondag na ‘n erediens staan en kuier. Dit is ‘n tipiese gesig by Witrivier.

Ek moet nou eers vir jou die storie vertel van wat verlede Sondag gebeur het. Dit was ‘n insident waaruit ek ‘n groot les geleer het.

Na afloop van eredienste staan ons mos onder die afdak en kuier dik stukke. Wel, verlede Sondag was geen uitsondering nie. Koffie in die hand het lidmate gestaan en stories uitruil oor die week se gebeure. Kort-kort kon jy hoor hoe iemand lag.

Ek het ook so op die grasperk voor die gemeentesentrum gestaan en kuier, toe my oog ‘n besoeker vang. Die persoon het ‘n blas vel en kom reguit na die kerkgebou toe aangestap. Eers die een persoon, toe die volgende, toe die volgende, toe die volgende…naderhand vergaap ek my aan hoe ‘n groep van meer as 20 mense van oorkant die straat, op die kerkgebou afpeil.

Wat op dees aarde soek hulle hier?”, wonder ek. “Dalk verwar hulle ons gemeente met ‘n ander een”, is my eerste gedagte. Almal híer is immers leliewit en hulle…nie. Maar die groep loop so doelgerig dat ek gou besef dat hulle beslis (volgens hulleself) op die regte plek is. “Miskien het hulle die tyd verkeerd”, dink ek by myself. “Maar hulle kan tog sien dat die erediens klaar is en almal nou buite staan en kuier, so dit kan ook nie dít wees nie”.

Ek kan my nuuskierigheid nie meer keer nie en besluit om nader te stap en te gaan kennis maak. Ek val sommer weg en groet die eerste en beste een wat verbystap (hy was seker so in die middel van die lang ry besoekers). “Hallo, welkom!”, sê ek. Maar die persoon praat nie terug nie. Hy glimlag verleë en stap voort. Die hele groep verdwyn in ons kerkgebou in met my wat hulle agterna staar…

Ek probeer nog in my kop tot verhaal kom oor wat besig is om te gebeur, toe stap die hele groep weer uit die kerkgebou uit. Hulle was minder as ‘n minuut daarbinne! Nou is ek eers “ge-puzzle”.

Ek probeer weer groet soos hulle terugstap, en toe hoor ek hoe een van hulle met ‘n vriend loop en praat. Dit is was duidelik nie Afrikaans wat ek gehoor het nie, so ek slaan oor Engels toe: “Hallo, welcome, welcome!” Onsuksesvol groet ek die eerste persoon wat verbyloop, so ook die tweede en die derde. Maar êrens in die lang ry mense wat verby my stap, tref ek toe gelukkig één wat Engels magtig is.

Sy stop en vertel my vriendelik in haar gebroke Engels dat hulle ‘n toergroep uit Réunion eilande is. Hulle is eintlik Franssprekend. En hulle wou sommer gou na die binnekant van ons kerkgebou kom kyk. Hulle het gedink dit is ‘n katerdraal.

Ek ken min Frans, maar gelukkig het ek die tv-program “Arsène Lupin” as kind gekyk. My franse woordeskat bestaan dus uit ‘n volle drie woorde waaruit ek kan kies:  “Je t’aime”, “Au revoir!” en “Bon voyage!”. Ek som die situasie op en meen dat “Bon voyage!” die meer gepaste woordkeuse sal wees, en roep dit selfversekerd vir die groep agterna. Hulle wuif vir my terug, maar ek kan sien hulle is nog teleurgesteld in my vervelige katedraal.

Toe ek by die huis aan die insident terugdink, het ‘n klomp gedagtes my kop deurkruis. “Ek moet nog gewoond raak aan die feit dat ek in ‘n dorp bly wat ‘n toeriste aantreklikheid is”, dink ek dankbaar.

Dit is nogal jammer dat die groep toeriste teleurgesteld moes omdraai toe hulle die binnekant van ons kerkgebou sien”, kom die tweede gedagte. Ja, die reformasie – waarvan ons hierdie jaar die 500ste herdenking vier – het protestantse kerkgeboue van alle skilderye, beelde, kuns en simboliek gestroop.

Ons kerk is vaal. Ons kerk is arm.

Gelukkig”, troos ek myself “het die groep toeriste toe die régte Kerk gesien”. Hulle het immers verby ‘n klomp gelowiges gestap wat vrolik gestaan en kuier het. Hulle kon sekerlik die blydskap in ons stemme hoor en die vreugde op ons gesigte sien om deel van hierdie geloofsgemeenskap te wees. Of het hulle?

Het die “régte Kerk” hierdie mense warm gegroet? Het die toeriste gevoel hulle is welkom, of het hulle gevoel ‘n klomp mense gluur hulle aan?

Die Kerk van Jesus straal inklusiwiteit óór die grense van taal en ras uit. Het hierdie mense dít by ons beleef? Ek weet nie. Ek kan nie sê nie. Maar die vraag hou my in die aande wakker.

Ons Kerk is vaal. Ons Kerk is arm.

Ek droom oor ‘n Kerk wat die diversiteit wat daar eendag in die hemel gaan wees, nou reeds weerspieël. Ek droom oor  ‘n Kerk waar mense wat nie dieselfde dink, klink of lyk nie, álmal tuis kan voel. Dit begin by my en by jou…


  • 1

My eerste 7 indrukke van NG Witrivier

logo kleur JPEGWat dink jy is ons gemeente se sterkpunte? Natuurlik het ons gemeente ‘n klomp tekortkominge en foute – maar wat is die dinge waarmee ons goed is?

Wel, ek is nou presies ‘n jaar in die gemeente. Die afgelope 12 maande het ek net dopgehou. Ek het fyn geluister en baie van ons gemeente se identiteit geleer.

Ek het genoeg gesien om te weet dat ons nie ‘n “perfekte gemeente” is nie. Maar ek het ook in die afgelope 12 maande gesien dat daar ontsettend baie positiewe aspekte van ons gemeente is. Eienskappe wat ek sou wou sê pluspunte van ons gemeente is. Kom ek noem vir jou net 7 van die vele wat my opgewonde maak…

1               Die rol wat die Bybel speel.

Die eerste ding wat ek hier in Witrivier raakgesien het, was die plek wat die Woord inneem. Daar is nie een – en ek bedoel nie een – vergadering wat begin sonder dat ons met Skriflesing open nie.

Nou dit kan vir jou miskien klink of dit net ‘n tradisie is wat mense uit gewoonte doen, maar wanneer jy self insit in een van hierdie vergaderings, kan jy sien dat mense dit doen omdat daar ‘n diep liefde en ‘n groot respek vir God se Woord is.

‘n Tipiese Skriflesing word op so ‘n manier gedoen, dat die geleentheid nie misbruik kan word om jou eie preek af te steek nie. In wese is dit die luistersiklus of ‘n vorm van “Lectio Divina” wat gevolg word omdat elkeen na afloop van die Skriflesing, kans kry om te deel wat hy of sy self uit God se Woord gehoor het.

Ek kon dadelik agterkom dat hierdie goed gevestigde gebruik, ‘n geslag lidmate grootgemaak het wat selfstandig met die Woord kan omgaan. Die deursnee lidmaat ken die Bybel, is nie afhanklik van ‘n predikant om hom/haar geestelik kos te gee nie, kan self die boodskap van ‘n teks interpreteer – en het geleer om ruimte te hê vir mense wat om dieselfde tafel sit, en wat iets anders by die Here hoor. Dit is myns insiens een van die gebruike in ons gemeente wat seker die grootste aandeel in die geestelike diepte van ons leiers het.

Skriflesing is in ons gemeente nie maar net ‘n “sleutel” om die eintlike vergadering mee “oop te sluit” nie. Dit neem op elke vergadering prima-tyd in beslag. Dikwels stuur dit besluite wat ons later in die vergadering moet neem – en in elke geval bepaal dit die stemming waarin die vergadering gaan geskied. Ek geniet hierdie gebruik van ons geweldig baie – mag ons dit nooit verleer nie.

2               Gemeentelede wat eienaarskap vat.

Een van die groot dinge wat my ook opgeval het, is die vlak van eienaarskap wat lidmate vir hulle bediening hier in Witrivier neem. Wanneer ‘n predikant by ‘n bediening se vergadering opdaag – is daar ‘n baie goeie kans dat hy nie die opening gaan behartig nie, nie die voorsitter gaan wees nie, en ook nie die agenda gaan bepaal nie.

Dit is omdat ons gemeente al etlike jare gelede wegbeweeg het van ‘n herder-kudde-model, na die Nuwe Testamentiese liggaamsmodel van kerkwees. Hiervolgens het lidmate nie meer ‘n Mosesfiguur van wie hulle afhanklik is nie. Elke gelowige is koning, priester en profeet en het ‘n unieke rol in die liggaam te speel.

Ja, die predikante het ‘n bepaalde leierskapstaak. Ons help met die visioenering en om die koers van die gemeente te bepaal – maar dit is die gewone lidmaat wat sy of haar amp as gelowige opneem wat die deurslag gee. Omdat lidmate ander medegelowiges in omgeegroepe versorg, hospitale besoek, hulle tegniese agtergrond in eredienste aanwend, hul finansiële kennis in die bestuur van die gemeente gebruik, of hul kunsinnigheid in ‘n kwartaaltema se veldtog stort, bereik ons saam baie meer as wat ons sou as alles net van die dominee afgehang het.

3               Die klem op diensgeleenthede.

In ons gemeente is ons vas oortuig dat om te dien, die enkele grootste katalisator van geestelike groei is. Om hierdie rede beklemtoon ons die belangrikheid daarvan om doelbewus geleenthede te soek waar jy iemand se “voete kan was”.

Ja, daar is natuurlik mense in ons gemeente met ‘n “verbruikersmentaliteit” wat net kom kyk wat die kerk vir hom of haar kan bied. Maar hoe nader jy aan die kern van ons gemeente beweeg, hoe meer tref dit jou dat lidmate wat wil groei, diensgeleenthede soek. Die diens kan enige vorm aanneem: van bejaardes besoek tot begrafnisbroodjies smeer. Hulle weet solank as wat hulle dit kan doen asof hulle dit vir Jesus doen, gebeur daar iets in hulle. Dit is tot so ‘n mate dat mens net meer en meer onder die indruk kom dat as ons lidmate van diensgeleenthede ontneem, ontneem ons hulle van groeigeleenthede.

Dien loop natuurlik hand aan hand met mense se passies. Moenie asseblief nie dink dat die Here ons net altyd op ‘n plek wil gebruik waar ons nie wil wees nie. Inteendeel, dikwels is dit juis die sake waaroor jy passievol voel waar Hy jou die meeste kan gebruik. En om hierdie rede sien ek ook raak dat ons gemeente mense se passies ernstig opneem. Dikwels ontstaan daar rondom ‘n passie, ‘n bedieningsveld.

4               Die plek van diversiteit

So divers as wat mense se passies is, so uiteenlopend is hulle spiritualiteit. En dit val my op dat ons gemeente plek maak vir elkeen.

Ons mense kom uit verskillende teologiese agtergronde. Die hele spektrum van gereformeerdes tot charismatici sit in ons banke. Dieselfde geld vir mense se moedertale en uiteenlopende politieke oortuigings.

Verskillende mense aksentueer verskillende uitgangspunte in hul verhouding met die Here. Vir party is sekere kwessies meer belangrik as ander. Elkeen beleef en hoor die Here uniek. En weet jy wat is so lekker daarvan: Dis ok!

Die lekker van ons gemeente is dat daar plek is vir elkeen. Ons akkomodeer “andersheid”. Dit is wonderlik om te sien hoe ‘n gemeente nie verskille bedreigend beleef nie, maar eerder stimulerend. Dit veroorsaak ‘n bruisende onvoorspelbare kreatiwiteit wat hoogs opwindend vir my is! Omdat alles nie beheer en gereguleer word nie, heers daar ‘n spontane vryheid. Wat my opgewonde maak is dat daar dikwels juis in sulke soepel omgewings, ‘n vars beweging van die Heilige Gees losbreek wat jou verras!

Maar dit is nie net verskillende spiritualiteitsbelewenisse van lidmate wat aanvaar word nie. Ook die verskeidenheid van ander Christelike kerke en organisasies word omhels. Omdat ons gemeente nie bang is om met medegelowiges van ander kerke en organisasies saam te netwerk nie, ontstaan daar ‘n kragtige synergie. Saam bereik ons veel groter hoogtes, as wat elkeen op sy eie aanploeter.

5               Die ontploffing van omgeegroepe.

Ek merk dat een van die hooffokusareas van ons gemeente, ons omgeegroepe is. Dit is in omgeegroepe waar lidmate vriende word. Dit is hier waar mense warmte ervaar. Dit is geen wonder dat omgeegroepe in ons gemeente die primêre rol in die versorging van lidmate speel nie.

Nodeloos om te sê beteken dit ook dat die werk wat met omgeegroepe verbandhou, ‘n hoë prioriteit is en baie tyd in beslag neem: die beplanning van kwartaalreekse, die ontwikkeling van materiaal, die kreatiewe uitwerk van geloofsmomente, die mobilisering van nóg ‘n veldtog…

So baie energie wat in omgeegroepe gestort word, moet dus ook noodwendig groei tot gevolg hê. Daarom sien daar met bykans elke reeks, nuwe omgeegroepe die lig. Op die oomblik is ons sterk oppad na 60 omgeegroepe in ons gemeente!

Ek sien dat omgeegroepe die voertuig van idees in ons gemeente is. Dit is die medium waardeur mense bereik word. En lidmate weet dit ook. Ek merk op dat sodra iemand ‘n volgende tree in hulle verhouding met die Here wil gee, hulle vra of daar nie dalk ‘n omgeegroep is waar hulle kan aansluit nie. Ek wil dit waag om te sê dat ons grootste groeipunt in die toekoms, hier lê.

6               Hoe visioenerende leierskap lyk.

Ek het vinnig agtergekom dat my rol in Witrivier baie anders gaan lyk as in my vorige gemeente. Hoewel ek uiters gelukkig was in my vorige gemeente, het die grootste deel van my werk daar uit pastoraat, huis- en siekebesoek bestaan. Daar was natuurlik ook prosesse en projekte waarvoor ek pa gestaan het, maar dit was ‘n baie kleiner komponent van my werk. Dit was bloot die rolverwagting waarin ek my bevind het en die eise van wat op daardie stadium in die gemeente nodig was.

Toe ek in Witrivier instap, was dit presies die teenoorgestelde. Hier moet ek uiteraard ook lidmate pastoraal versorg – maar die grootste komponent van my werk hier het met bestuur- en leierskapsfunksies te make.

Maar dit is nie net die predikantsrol wat so lyk nie. Ons gemeenterade is ook vir hierdie doel so gestruktureer. Die dagbestuur is gerat vir vinnige besluitneming en die kerkraad om visionêr leiding te gee. Die kerkraad verstaan hulle rol in terme van die beskrywing van die Issaskarstam: “die Issaskarstam, die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan” (1 Kron 12:32). Hierdie is die hart van visionêre leierskap.

Ons rol is nie om die “status quo” te handhaaf nie. Daar is heeltyd ‘n doelbewuste beweging vorentoe. Op die oomblik is ons gemeente juis weer besig met ‘n visioeneringsproses waar ons 4 fokusareas wil beklemtoon, wat ons glo die Here op ons gemeente se hart druk. Ek deel meer hieroor met jou in ‘n volgende inskrywing.

7               Die hegte leraarspan

Elke nuwe lidmaat kry waarskynlik nie dadelik te make met al die leraars nie, en daarom sal hierdie punt dalk nie vir almal ewe opvallend wees nie. Maar is dit definitief een van die groot pluspunte op my lysie.

En nee, ek byt nie op my lip terwyl ek dit skryf nie! Die waarheid is dat ons as leraars (met ons gesinne) elke week saam eet omdat ons vir mekaar lief is. Ons bid saam, dink saam, beplan saam, vergader saam, besluit saam, doen saam. Mens loop seker die gevaar dat ons te veel tyd dupliseer omdat ons alles saam doen, maar dit is vir ons lekker om by mekaar betrokke te wees.

Ja, ons het verskillende persoonlikhede. En natuurlik het elkeen van ons ons eie teologiese klem, maar ons vul mekaar wonderlik aan. Daar is ‘n wedersydse blindelingse vertroue in mekaar se motiewe. Dit is nie noodwendig vir elke lidmaat ewe belangrik om te weet dat die leraars met mekaar goed oor die weg kom nie, maar vir my is dit ononderhandelbaar.

Maar nou is die vloer joune. Vertel vir my wat dink jy is ons gemeente se pluspunte. Wat sou jy sê is die dinge waarop ons in ons gemeente kan voortbou?


Soek ‘n sleutelwoord:

Klik om na preke te luister

Ons kan jou help om deur jou Bybel te lees in net 3 jaar. Klik hier vir meer inligting.

Waar kan ek dien?

Om te dien is een van die heel beste maniere om geestelik te groei. Klik hier vir 'n lys van plekke waar jy jou voorskoot kan aantrek.

Hoe word ek deel van ‘n omgeegroep?

Daar is min dinge wat jou verhouding met die Here so goed kan doen, soos om aan 'n omgeegroep te behoort. Vind uit hoe jy dit kan doen!

‘n Nuwe Reeks!

God vertrou my!May 7th, 2017
Die groot dag het aangebreek

Kerkkantoor

0137511644
Maandae - Donderdae: 08:00-13:00
Vrydae: 08:00-12:30
Sondae na afloop van die oggenddiens

Kaart na ons gemeentesentrum