Category Archives: Kommunikasie

  • 0

Hoekom mens eerder nie moet dankie sê nie

Tags :

Category : Kommunikasie

Hoeveel keer ‘n dag hoor jy die woord “dankie”? Ons word van kindsbeen af geleer om die woord te gebruik, maar wat is die bedoeling agter die woord?

Dankbaarheid, en die aard daarvan, is een van daardie konsepte wat eenvoudig klink tot mens werklik sit en die konsep ontleed. Wat is dit om werklik dankbaar te wees, waar kom dit vandaan en hoekom is ons dankbaar?

Seer sekerlik een van die duidelikste voorbeelde van die aard van dankbaarheid is te vinde in in Lukas 17: 11-19. Jesus word deur tien melaatse mans buite die dorp gevra om homself oor hulle te ontferm, waarop hy sê in vers 14 “ Gaan wys julle vir die priesters”. Die mans is genees op pad na die priesters toe. Net een van die mans het terug gedraai en by Jesus se voete hom gedank vir sy genesing.

Buiten die geloof wat al tien die mans ten toon gestel het om nie vrae te vra oor Jesus se instruksie nie, maar sy opdrag te gehoorsaam, het net een man se hart so oorgeloop van dankbaarheid dat hy terug is na Jesus toe om hom te bedank. Ek is in my hart oortuig dat hy nie die enigste man is wat bly was oor sy genesing onder die tien nie. Dit is juis daar waar ons ‘n idee kry van wat dankbaarheid is.

Al tien mans moes oorgeloop het van blydskap oor hul genesing, net soos wat ons bly is oor geskenke ontvang, ‘n bonus kry of ander eksterne faktore wat ons laat dankie sê. Ware dankbaarheid in hierdie verhaal, sowel as soveel ander verhale in ons eie lewens, was nie ‘n gevolg van ‘n eksterne faktor in die mans se lewens nie, dit was iets anders wat die een man laat terugdraai het.

In 1 Tesslonisense 5:18 word ons opdrag gegee om in alle omstandighede dankbaar te wees, ongeag van die eksterne faktore wat ons gelukkig, of ongelukkig, maak. Die enigste afleiding wat daaruit gemaak kan word is dat dankbaarheid nie afhanklik is van eksterne faktore nie, maar van binne af kom. So begin dankbaarheid en geloof baie dieselfde klink neh?

Die rede daarvoor kan mens lees verder in 1 Tesslonisense 5:18 “want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is”. Eenvoudig, ons as Christene moet dankbaar wees in alle omstandighede want Jesus is ons verlosser. Jesus het ons verlos van nie net sonde nie, maar van die tering van ‘n ondankbare hart op ons siel.

Ten slotte as ons as Christene nie God kan prys in alle omstandighede nie, is enige dankie oor ons lippe betekenloos en moet ons dit eerder nie sê nie.

~ Deur Martin Engelbrecht


  • 0

Wat as dit ‘n offer vra?

Category : Kommunikasie

Ek sit vanaand hier pen in die hand. Klein bietjie laat met my pitkos skrywe. Ek sit en filosofeer, nog altyd vir my ‘n interessante konsep. So kan ons wonder en dink en dinge soort van vir onsself uitmaak…

Filosofie skuif die  grense van die normale, dit keer die sekerheid wat ons vir onsself uitmaak op sy kop. Ek dink aan pitkos… en ek dink aan die Tiendemaand dankoffer, ek dink aan gemeente-ete en samesyn. My hart filosofeer oor my pitkos artikel; troos wat ons deel met mekaar om ‘n saadjie van hoop in mekaar se lewens te plant. Stukkies van God se gawes en guns wat ons meng met flentertjies Woord om die gebrokenes van hart te bemoedig en heel dikwels gryp ek self na ‘n handvol van hierdie genade.

Die genade van gee en deel. ‘n Geskenk en voorreg om onsself te versadig met Die Brood van die Lewe en ons dors te les in die stroom van Lewende Water. Die diepe honger en dors wat net gevul kan word deur Jesus Christus self.

Dit laat my dink aan Johannes die doper wat gesê het dat hy nie eens werd is om Hy wat gaan kom se skoene los te maak nie. Ek word herinner aan die kleine. Wat het ek en jy om te deel? Wat is ons bereid om te gee en wat kos dit vir my en jou? Begrawe ons die talente wat God aan ons toevertrou? Dis soms geen moeite om uit oorvloed duisende of tienduisende te gee nie, maar wat as dit jou laaste is? Wat as dit ‘n offer vra?

As ek eerlik is dan moet ek erken dat offer dikwels vir my moeilik is, dis heelwat kere baie makliker om uit oorvloed in my beursie of gemoed of selfs liefde te kan gee, maar wat as dit my laaste is? As daardie offer aan my vel kom skraap en my hart angstig laat klop? Dis op hierdie plek van broosheid waar ‘n offer vir God ‘n lieflike geur het.

Soos wat ek hier skryf kom lê die sekerheid in my hart, offer en broosheid stap hand aan hand en in myself weet ek ek het genade nodig om werklik te offer. Dis nie iets waartoe ek in staat is nie, Abba Vader rus my toe. Dis Hy wat ingryp en my toerus om uit gebrokenheid te offer.

Soos wat ons voorberei op ons tiendemaand dankoffer, kom ons raak aan die kwesbaarheid en gebrokenheid in ons menswees. Dat ons besef dat selfs om aan God te gee ‘n geskenk is, ons het nie die vermoë om uit ons eie te gee nie.

Dat ons besef dat selfs om aan God te gee ‘n geskenk is, ons het nie die vermoë om uit ons eie te gee nie.

Dis vervullend die filosofie, dis genade die feit dat ons net gedeeltelik ken en nog nie ten volle nie, want so bly ons soek en hunker na God se volheid en genade, want waar ek hier my pen so byna neersit is dit al wat ons oor het… die genade van Geloof, Hoop en Liefde, die grootste hiervan is die liefde… liefde offer in gebrokenheid.

~ deur Lindi Meyer


  • 0

‘n Unieke kwartaalreeks wat op jou wag

Category : Kommunikasie

Hierdie jaar vier Kerke regoor die wêreld ‘n besonderse herdenking van die Reformasie.

Martin Luther het die dapper stap geneem om die Kerk van sy tyd aan te vat oor die suiwerheid van hul lering. Hy het 95 leerstellings teen die Kerkdeur van Wittenberg vasgespyker, in die hoop om daaroor gesprek te voer. Hy is egter gedwing om die leerstellinge terug te trek – óf om die gevolge van sy dade te dra…

Sy besluit kon sy lewe gekos. Maar hy wou met sy gewete saamleef, en het daarom by sy standpunte gebly. In sy beroemde sin sê hy aan die owerhede: “Hier staan ek. Ek kan nie anders nie.”

Die reformasie het hieruit voortgevloei en is op 5 pilare gebou: Sola Scriptura; Sola Fide; Sola Gratia; Solus Christus; Soli Deo Gloria!

Die kerkhervorming was ‘n deurslaggewende gebeurtenis in ons geskiedenis maar hoort nie net tot die verlede nie. Dít waarvoor die reformasie gestaan het, is nog net so relevant vir vandag: Hierdie kwartaalreeks bedink wat die belydenis “Die Skrif alleen; Geloof alleen; Genade alleen; Christus alleen; Alleen aan God die eer” vir ons vandag beteken.

Fliekaand

Ons nooi jou om 8 Augustus die fliek “Luther” as geloofsgemeenskap saam te kom kyk. Dit is die dag voor die vakansiedag, so ons visualiseer ‘n heerlike fliekaand waar oud en jonk saam kan kuier. Meer inligting volg…

Afskop van die reeks

Die kwartaalreeks skop 13 Augustus af. As jy in ‘n omgeegroep is, sal jy jou materiaal deur jou omgeegroepleier ontvang.

Dit is ook die ideale geleentheid om nuut by ‘n omgeegroep in te skakel! Al is dit net vir die duur van die reeks, is jy baie welkom om by ‘n bestaande groep in te skakel. Gee gerus een van die leraars ‘n lui of kontak die kantoor.

As jy egter op jou eie die reeks wil volg, sal boekies teen R25 en DVD’s teen R50, op 6 en 13 Augustus na afloop van die erediens beskikbaar wees.

Mag hierdie kwartaalreeks vir jou meer oor ons wortels vertel, maar ook vir jou wys waarom dit steeds net so relevant is vir ons vandag.


Soek ‘n sleutelwoord:

Klik om na preke te luister

Ons kan jou help om deur jou Bybel te lees in net 3 jaar. Klik hier vir meer inligting.

Waar kan ek dien?

Om te dien is een van die heel beste maniere om geestelik te groei. Klik hier vir 'n lys van plekke waar jy jou voorskoot kan aantrek.

Hoe word ek deel van ‘n omgeegroep?

Daar is min dinge wat jou verhouding met die Here so goed kan doen, soos om aan 'n omgeegroep te behoort. Vind uit hoe jy dit kan doen!

‘n Nuwe Reeks!

God vertrou my!May 7th, 2017
Die groot dag het aangebreek

Kerkkantoor

0137511644
Maandae - Donderdae: 08:00-13:00
Vrydae: 08:00-12:30
Sondae na afloop van die oggenddiens

Kaart na ons gemeentesentrum