Author Archives: Nati Stander

  • 1

‘n Storie oor besoekers.

Mense wat op ‘n vorige Sondag na ‘n erediens staan en kuier. Dit is ‘n tipiese gesig by Witrivier.

Ek moet nou eers vir jou die storie vertel van wat verlede Sondag gebeur het. Dit was ‘n insident waaruit ek ‘n groot les geleer het.

Na afloop van eredienste staan ons mos onder die afdak en kuier dik stukke. Wel, verlede Sondag was geen uitsondering nie. Koffie in die hand het lidmate gestaan en stories uitruil oor die week se gebeure. Kort-kort kon jy hoor hoe iemand lag.

Ek het ook so op die grasperk voor die gemeentesentrum gestaan en kuier, toe my oog ‘n besoeker vang. Die persoon het ‘n blas vel en kom reguit na die kerkgebou toe aangestap. Eers die een persoon, toe die volgende, toe die volgende, toe die volgende…naderhand vergaap ek my aan hoe ‘n groep van meer as 20 mense van oorkant die straat, op die kerkgebou afpeil.

Wat op dees aarde soek hulle hier?”, wonder ek. “Dalk verwar hulle ons gemeente met ‘n ander een”, is my eerste gedagte. Almal híer is immers leliewit en hulle…nie. Maar die groep loop so doelgerig dat ek gou besef dat hulle beslis (volgens hulleself) op die regte plek is. “Miskien het hulle die tyd verkeerd”, dink ek by myself. “Maar hulle kan tog sien dat die erediens klaar is en almal nou buite staan en kuier, so dit kan ook nie dít wees nie”.

Ek kan my nuuskierigheid nie meer keer nie en besluit om nader te stap en te gaan kennis maak. Ek val sommer weg en groet die eerste en beste een wat verbystap (hy was seker so in die middel van die lang ry besoekers). “Hallo, welkom!”, sê ek. Maar die persoon praat nie terug nie. Hy glimlag verleë en stap voort. Die hele groep verdwyn in ons kerkgebou in met my wat hulle agterna staar…

Ek probeer nog in my kop tot verhaal kom oor wat besig is om te gebeur, toe stap die hele groep weer uit die kerkgebou uit. Hulle was minder as ‘n minuut daarbinne! Nou is ek eers “ge-puzzle”.

Ek probeer weer groet soos hulle terugstap, en toe hoor ek hoe een van hulle met ‘n vriend loop en praat. Dit is was duidelik nie Afrikaans wat ek gehoor het nie, so ek slaan oor Engels toe: “Hallo, welcome, welcome!” Onsuksesvol groet ek die eerste persoon wat verbyloop, so ook die tweede en die derde. Maar êrens in die lang ry mense wat verby my stap, tref ek toe gelukkig één wat Engels magtig is.

Sy stop en vertel my vriendelik in haar gebroke Engels dat hulle ‘n toergroep uit Réunion eilande is. Hulle is eintlik Franssprekend. En hulle wou sommer gou na die binnekant van ons kerkgebou kom kyk. Hulle het gedink dit is ‘n katerdraal.

Ek ken min Frans, maar gelukkig het ek die tv-program “Arsène Lupin” as kind gekyk. My franse woordeskat bestaan dus uit ‘n volle drie woorde waaruit ek kan kies:  “Je t’aime”, “Au revoir!” en “Bon voyage!”. Ek som die situasie op en meen dat “Bon voyage!” die meer gepaste woordkeuse sal wees, en roep dit selfversekerd vir die groep agterna. Hulle wuif vir my terug, maar ek kan sien hulle is nog teleurgesteld in my vervelige katedraal.

Toe ek by die huis aan die insident terugdink, het ‘n klomp gedagtes my kop deurkruis. “Ek moet nog gewoond raak aan die feit dat ek in ‘n dorp bly wat ‘n toeriste aantreklikheid is”, dink ek dankbaar.

Dit is nogal jammer dat die groep toeriste teleurgesteld moes omdraai toe hulle die binnekant van ons kerkgebou sien”, kom die tweede gedagte. Ja, die reformasie – waarvan ons hierdie jaar die 500ste herdenking vier – het protestantse kerkgeboue van alle skilderye, beelde, kuns en simboliek gestroop.

Ons kerk is vaal. Ons kerk is arm.

Gelukkig”, troos ek myself “het die groep toeriste toe die régte Kerk gesien”. Hulle het immers verby ‘n klomp gelowiges gestap wat vrolik gestaan en kuier het. Hulle kon sekerlik die blydskap in ons stemme hoor en die vreugde op ons gesigte sien om deel van hierdie geloofsgemeenskap te wees. Of het hulle?

Het die “régte Kerk” hierdie mense warm gegroet? Het die toeriste gevoel hulle is welkom, of het hulle gevoel ‘n klomp mense gluur hulle aan?

Die Kerk van Jesus straal inklusiwiteit óór die grense van taal en ras uit. Het hierdie mense dít by ons beleef? Ek weet nie. Ek kan nie sê nie. Maar die vraag hou my in die aande wakker.

Ons Kerk is vaal. Ons Kerk is arm.

Ek droom oor ‘n Kerk wat die diversiteit wat daar eendag in die hemel gaan wees, nou reeds weerspieël. Ek droom oor  ‘n Kerk waar mense wat nie dieselfde dink, klink of lyk nie, álmal tuis kan voel. Dit begin by my en by jou…


  • 0

Wat beteken “Soli Deo Gloria” vir vandag?

‘n Jong dame vertel eendag vir my hoe haar hart gebreek is: Sy het halsoorkop verlief geraak op ‘n man wat belangstelling in haar getoon het. Totdat sy agtergekom het dat hy haar eintlik net gebruik om sy eks jaloers te maak!

Sy vertel hoe hartverskeurend dit vir haar was toe sy agterkom dat hy nooit regtig in haar belang gestel het nie. Sy het vernederd en misbruik gevoel toe sy besef sy was eintlik net ‘n “middel” vir die man se eie agenda.

1.) Soli Deo Gloria

‘n Skildery van Pous Leo X deur die kunstenaar Raphael

Baie dieselfde soort gewaarwording het by Martin Luther ontwaak tydens die reformasie. Hy het ontdek dat die Kerk vir die mense sê dat hul begaan is oor hulle – maar inderwaarheid was die Kerk besig met hul eie agendas.

Vanuit hierdie ontnugtering, het die vyfde “Sola” ontstaan, naamlik: “Soli Deo Gloria”, oftewel “Alleen aan God die eer”. Om te verstaan wat hierdie Sola wou vermag, moet mens die konteks waarbinne dit geformuleer is, beter verstaan.

2.) Konteks van die slagspreuk

Pous Leo die tiende was die Pous ten tye van Martin Luther se reformasieproses. Hierdie Pous was niks beter as sy voorganger, Pous Julius die tweede nie. Dit was asof elke Pous, net meer roemryk as die vorige een wou wees.

2.1) Duur militêre veldtogte vir eie politieke agendas.

Pous Julius was bekend vir sy militêre veldtogte. En daarom wou Pous Leo nie teenoor hom afsteek nie. Hy het duur veldtogte van stapel gestuur “in die naam van die Here”, net om later sy eie nefie as Hertog van die verowerde gebied aan te stel om sodoende sy eie mag te verstewig. Elke oorlog wat só gevoer was vir politieke gewin, was natuurlik befonds vanuit die Kerkkas.

2.2) Aflaatbriewe vir die St Peter’s Basilica

Pous Julius het groot bouwerk aan die “St Peter’s katedraal” aangegaan – iets wat hom baie roem op die hals gehaal het. Pous Leo wil natuurlik nie afsteek nie, en neem ook groot bouprojekte onder sy sorg. Die projekte moet egter van êrens befonds word, en daarom vestig hy toe die gebruik van aflaatbriewe. Mense kon snikke in die blikke gooi, en dan kon daardie geld gebruik word vir die bouery.

Teenoor die mense is egter die indruk geskep dat die Kerk hierdie toegewing maak omdat hulle besorgd is oor die mense se baie sondes. In aansluiting met ons storie van vroeër, is dit sulke misbruik maak van mense, ter wille van jou eie agenda, wat Martin Luther dwars in die krop gesteek het.

2.3) “Beskermheer” van die kunste

Een van die kamers in die Vatikaan.

Pous Julius het baie nou saam gewerk met die kunstenaar Michaelangelo. Saam het hulle baie gedoen vir die ontwikkeling van kuns en die estetiese appél van die Basilica.

Pous Leo wou ook hierin “groter” wees as sy voorganger. Hy het saam met die kunstenaar Raphael gewerk om die kamers van die Basilica te verfraai. Pous Leo wou ten alle koste bekendstaan as die “beskermheer” van die kunste.

Daar is natuurlik niks verkeerd met kuns nie. En vandag is ons baie dankbaar dat die werke van Michaelangelo, Raphael en andere bewaar gebly het. Maar die probleem het ingekom by ego’s. Elke Pous wou “groter” en “beter” wees as sy voorganger. Dit het lankal nie meer gegaan oor God se Koninkryk nie, maar oor elkeen van hulle se eie klein koninkrykie.

Vanuit hierdie konteks, ontstaan die slagspreuk “Soli Deo Gloria”. Die reformatore wou hê dat dit nie oor hulleself moes gaan nie, maar oor die eer van God.

3.) Wat beteken “tot eer van God”?

Ons sou sekerlik hier kon stop en net sê: Ons lewens moet alleen tot eer van God wees. Maar wat beteken dit? Ek is bevrees dit is geykte kerktaal. Kom ons kyk wat dit prakties beteken om “tot eer van God” te lewe.

Die eerste ding wat ons vir mekaar moet sê, is dat vir íets om tot eer van God te wees, moet dit heilig wees! Iets wat “substandaard” is, kan onmoontlik aan God eer bring.

En dit is hier waar gedeeltes soos Romeine 14:6-8[1] en 1 Korintiërs 10:23 ons koppe deurmekaar maak. Hierdie gedeeltes sê dat ons kan “lewe” tot God se eer, ons kan “sterwe” tot God se eer, ons kan “eet” tot God se eer, en ons kan selfs “drink” tot God se eer.

Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God    (1 Kor 10:23)

Hoe is dit moontlik dat hierdie alledaagse dinge, aan God kan eer bring? Dit is tog nie “heilig” nie? Wel, om dit te verstaan moet ons so bietjie ‘n reis deur die Bybel neem om te sien hoe “heiligheid” gewerk het.

4.) Wanneer is iets “heilig” volgens die Bybel?

In die Ou Testament vind ons vier kategorieë van heiligheid. Kom ons kyk daarna:

i) Heilige Tye

In die eerste plek vind mens heilige tye. Die Sabbat was heilige tyd. Dit moes van al die ander dae in die week afgesonder wees.

‘n Antieke sonhorlosie in Israel.

ii) Heilige Plekke

Daar was heilige plekke. Die grondgebied van die tempel sou heeltemal anders wees as die res van Israel.

iii) Heilige Persone

Derdens het jy heilige persone gekry. Die priesters was van die res van die volk afgesonder. Daar is geglo dat God se Gees op ‘n besonderse wyse hulle “heilig” vir sy taak.

‘n Uitbeelding van ‘n priester.

iv) Heilige Voorwerpe

‘n Tipiese antieke kruik

Laastens was daar ook heilige voorwerpe. Dit was byvoorbeeld instrumente wat in en om die tempel gebruik was vir die offerkultus. Die braaitang waarmee die offers op die altaar hanteer is, is byvoorbeeld nie in dieselfde lig gesien as die braaitang by jou huis nie. Die potte by die tempel met met reinigingswater waarmee jy jou hande moes was, was as heilig beskou. Jy kan dieselfde soort kruik by jou huis hê, maar dit gaan nie heilig wees nie.

In die Ou Testament vind ons dus ‘n baie skerp onderskeid tussen die “heilige” en die “alledaagse”. Daar is ‘n skeiding gemaak tussen die “sakrale” en die “profane”.

En toe gebeur daar iets! Daar was ‘n besliste moment wat alles verander het! Die Skrif vertel vir ons dat toe Jesus sy laaste asem op die kruis uitblaas, die voorhangsel van die tempel geskeur het. En die manier waarop dit gebeur het is net so veelseggend: Van bo na onder.

‘n Uitbeelding van die voorhangsel wat skeur.

Die voorhangsel het die allerheiligste van die alledaagse geskei. Die oomblik toe dit skeur, was daar nie meer skeiding tussen hierdie twee nie.

En dit was nie mense wat dit van onder na bo geskeur het, nie. Dit was God wat dit van bo na onder geskeur het. Dit het sy goedkeuring weggedra dat daar voortaan nie meer skeiding tussen die allerheiligste en die alledaagse moes wees nie.

Na afloop van hierdie insident, verander die taal waarmee die Nuwe Testament oor heiligheid praat, drasties…

i) Heilige Tye

Waar daar in die Ou Testament een dag per week vir heilige tyd afgesonder was, sê die Nuwe Testament dat élke dag nou ‘n Sabbat is. Hebreërs 4 sê dat ons nou, vandag, élke dag, in God se Sabbatsrus kan ingaan. Daarmee bedoel die skrywer nie dat ons letterlik nie mag werk nie. Dit beteken ons vertrou nie op ons werke nie. Ons kan “rus”, omdat ons aanvaarding nie meer van ons eie prestasie afhang nie, maar van Christus s’n.

God het immers weer ’n dag bepaal, naamlik “vandag”… Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, 10want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. 11Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan…” (Heb 4:7, 9-11)

ii) Heilige Plekke

In teenstelling met die Ou Testament wat seker plekke as heilig beskou het, sê Paulus: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie?” (1 Kor 6:19)

Volgens Paulus is dit nie meer moontlik om van een “alledaagse” plek, na ‘n “heilige” plek te loop nie. Waar jy ook al loop is dit nou heilig, want jou liggaam is die tempel!

iii) Heilige Persone

In kontras met die Ou Testament waar daar slegs sekere persone was wat heilig was, skryf Petrus: “Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is…” (1 Pet :9)

Sien raak dat Petrus sê “julle”. Dit beteken elke gelowige is nou ‘n priester. Elke gelowige is nou “afgesonder” en word deur die Heilige Gees toegerus vir ‘n taak.

iv) Heilige Voorwerpe

Ook die heilige voorwerpe van die Ou Testament, kry vars betekenis in die Nuwe Testament. Vir die jong Timoteus word daar geskryf[2] dat elkeen wat hom reinig van die kwaad, vir ons eienaar ‘n voorwerp word wat “afgesonder” (lees “heilig”) en “bruikbaar” is. Onsself word dus nou heilige instrumente in die hand van die Here, ons eienaar.

5.) Gevolgtrekking: Alles is nou heilig!

#WegneemGedagte

Wat is die gevolgtrekking waartoe ons kom as ons al hierdie dinge vir mekaar sê? Jesus se versoenoffer aan die kruis het ons waardig gemaak vir die inwoning van die Heilige Gees! Daar is weggedoen met die onderskeid tussen dit wat heilig en dit wat alledaags is. Ons sou goedskiks kon sê: “Omdat Jesus álles van my reinig, is my héle lewe heilig”.

Dink gou bietjie daaroor na: Het Jesus jou vergewe vir wat jy by die werk gedoen het? Natuurlik! Maar dit beteken jou werk is nou heilig.

Het Jesus jou vergewe vir wat jy jou kinders aangedoen het? Natuurlik! Maar dit beteken jou verhouding met jou kinders is nou heilig.

Jesus het jou van álles gereinig. Daarom is jou héle lewe nou heilig. En dit is om hierdie rede dat Paulus vir ons in Romeine 14 en 1 Korintiërs 10 kan sê, dat ons kan “leef tot eer van die Here”, “sterf tot eer van die Here”, “eet tot eer van die Here” en selfs “drink tot eer van die Here”. Enige iets kan nou tot “eer van die Here” gedoen word.

6.) Wat ons níe sê nie…

Ek is bekommerd dat iemand gaan sê: “Nati sê die Here het met die onderskeid tussen heilige en alledaags weggedoen”. En dan verklaar die persoon verontwaardig: “Ek kan nie glo hy sê daar is nie meer iets soos ‘heiligheid’ nie”.

Die “alledaagse” word verhef tot op die vlak van die “heilige”.

Wel, om dit te voorkom, kom ons sê net gou wat ons níe sê nie: Met die wegdoen van die onderskeid tussen die heilige en die alledaagse, het die Here nie die heilige tot op die vlak van die alledaagse verlaag nie. Met die wegdoen van daardie skeiding, het Hy die alledaagse tot op die vlak van die heilige verhef. Álles is nou heilig.

Daar is eintlik ‘n baie treffende profesie in die Ou Testament wat daaroor handel. Die profeet Sagaria profeteer oor die “dag van die Here”, wat natuurlik op ‘n besonderse manier sy vervulling op die kruis vind. Dít was immers die dag wat God se oordeel uitgestort is.

Daardie dag sal daar op die klokkies aan die perde se tuie staan: “Gewy aan die Here”, en die potte in die huis van die Here sal net soos die offerkomme by die altaar wees. Elke pot in Jerusalem en Juda sal aan die Here die Almagtige gewy wees (Sag 14:20-21)

In hierdie treffende profesie sê Sagaria dat elke alledaagse pot, op die dag van die Here, aan Hom nét so gewy sal wees soos die potte in die huis van die Here. Natuurlik praat Sagaria nie hier van letterlike potte nie. Dit is ‘n metaforiese manier om te sê dat dít wat alledaags is, van daardie dag af ook heilig sal wees.

7) Wat is die toepassing?

Waar laat dit ons? Hoe verander ons uitkyk op die lewe as ons hoor dat die “alledaagse”, eintlik vir die Here “heilig” is?

Wel, as ons sê dat alle tyd nou vir die Here heilig is, dan dink ek mag ons onsself afvra hoe rig ons daardie tyd in? Bring dit eer aan die Here? As ons sê dat ons liggame nou ‘n tempel van die Here is, dan dink ek mag ons onsself afvra of ons daardie tempel oppas? Die blote feit dat jy gym, mag iets word waarmee jy God vereer…

Ek dink nie ons besef die grootsheid van die implikasies as ons sê dat letterlik álles wat ons doen, aan die Here eer kan bring nie. Selfs ons sekslewens is heilig. Die Hebreërskrywer sê: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet” (Heb 13:4). Hy verhoog die huweliksbed tot op die vlak van die heilige. En elkeen van ons wat al seks geproe het soos God dit wil hê, sal met die Hebreërskrywer saamstem: Ook seks is heilig.

So ook ons humor en die grappe wat ons vertel. Die manier waarop ons ons kinders grootmaak. Die werksetiek wat jy handhaaf. Die geld wat jy het en hoe jy dit spandeer, kan aan die Here eer bring. So ook die manier hoe ons ons huishulpe betaal en ons kollegas by die werk behandel. Álles is heilig.

Die manier waarop jy probleme en konflik hanteer, kan aan die Here eer bring. Ons het die afgelope week selfs in die nuus gesien dat die manier waarop jy padwoede hanteer, tot eer van die Here kan wees. Óók die manier waarop ons vergewe, kan eer aan die Here bring…

8) Van fragmentasie na integrasie

Fragmentasie lei tot disintegrasie

Gesinsterapeute wat met huwelike werk, sê altyd dat iemand wie se lewe uit kompartemente bestaan, die grootste risiko loop om ‘n huwelik te verongeluk.

Dalk dink die vrou dat haar verhouding met haar Ma – of skoonma – geïsoleerd van haar verhouding met haar man is, en dat dit niks met mekaar uit te make het nie. Maar sy sal verkeerd wees.

‘n Man sou byvoorbeeld kon dink dat die geld wat hy verdien, syne is. Dit het niks met sy vrou te make waar hy dit spandeer nie. So ‘n persoon dink geld is in een fragment van sy lewe en sy huwelik is in ‘n ander. Díe twee het geen effek op mekaar nie. Maar ook dit sou ‘n groot fout wees.

Fragmentasie lei tot disintegrasie. Kort voor lank spat alles uitmekaar. Die ideaal is dat ons soos héél mense sal leef. Die ideaal is dat al die verskilende sektore van ons lewe – al die fragmente – met mekaar geïntegreer sal word.

Integrasie is nodig vir gelukkige huwelike. Integrasie is ook nodig vir ‘n gesonde verhouding met die Here. Kom ek vertel jou ‘n storie wat dit illustreer…

9) Oor gebreekte vliegtuie…

Op ‘n dag kom my seun Christiaan by my aan met twee van sy speelgoed vliegtuigies. Die vlerke het van die romp afgebreek, en hy het met groot vertroue dit na sy pa toe gebring sodat dit reggemaak kon word.

Op hierdie stadium is ek nog sy “hero”. Volgens hom kan ek enige iets doen – en ek wil daardie valse indruk vir so lank as moontlik so hou. Ek probeer dus my bes om dit wat hy vir my gee, reg te maak.

Hierdie spesifieke dag sit hy die vliegtuigies op my skoot neer, met die versoek dat ek dit sal regmaak, asseblief. Maar toe gryp hy die een stel vlerke en hardloop weer buitentoe. Ek roep agter hom aan: “Hey! Waar gaan jy met die vlerke?

Ek wil nog met dit speel terwyl Pappa die vliegtuigie regmaak!”, snou hy my terug. (Partykeer dink ek hy het sy logika by sy Ma geërf). Onthuts skree ek weer agter hom aan: “Maar as jy wil hê dat pappa dit vir jou moet regmaak, moet jy vir pappa al die stukke gee!”. En net toe besef ek dat die Here dieselfde vir ons sê…

So baie keer bid ons: “Here, my lewe gee ek vir U!” (Maar nie my rekenaar waarop ek werk nie). Of “Here, alles in my lewe behoort aan U!” (Behalwe vir die wrok wat ek koester).

Die Here wil hê dat ons héél, geïntegreerde mense sal wees. Maar dan moet ons al die stukke vir Hom gee. Alles van ons is heilig. Elke sfeer van ons lewe kan aan die Here eer bring. En dikwels is dit veral die gedeeltes wat ons van Hom af weghou, wat Hom die meeste kan verheerlik.

Wat in jou lewe, hou jy van die Here weg? Oor watter gedeelte van jou lewe sê die Heilige Gees vir jou: “Laat ook dít aan my eer bring”? Soli Deo Gloria

Amen

 

[1] Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God. Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here (Rom14:6-8)

[2] In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens. (2 Tim 2:20)


  • 0

5 Plekke waar ek die Here hierdie week sien werk het.

Category : Uncategorized

Met al die slegte nuus in ons lewe kan ons baat met ‘n bietjie goeie nuus. Daarom het ek gedink om gou 5 voorbeelde vir jou te noem van waar ek die Here die afgelope week in ons gemeente gesien werk het.

1.) Die Heilige Gees word gehoorsaam.

In ons gemeentebrief het ek jou vertel van ons sendelinge, Alfred & Belinda Paetzold, se groot terugslag met Alfred se gesondheid. Ek het ook – nogal huiwerig – gevra of daar nie dalk iemand is wat ‘n voertuig kan beskikbaarstel om Alfred’hulle uit Lichinga te help trek nie.

Kort daarna het ‘n vrou in ons gemeente haar kom aanmeld. Sy het gesê sy voel die Heilige Gees druk dit op haar hart om haarself en haar voertuig te kom aanbied. ‘n Ander lidmaat het hulle waentjie ook vir die trek beskikbaar gestel.

Iets van die Handelinge-gemeente se mededeelsaamheid het voor my oë afgespeel. Gelowiges in ons gemeente het – onder leiding van die Heilige Gees – van hulleself gegee ter wille van ander.

2.) Omgee word tasbaar.

Ons gemeente is onlangs diep geraak deur die afsterwe van die tienerseun, CF Wagner, nadat hy sy stryd teen kanker verloor het. Ons was almal vol vertroue dat hy gesond gaan word.

Ek was nog besig om deur my eie verslaentheid te werk. Toe hoor ek ‘n vriendekring in ons gemeente, Ytipan-innipens, skenk vanuit die opbrengs van hulle pannekoekverkope by Innibos, ‘n bydrae aan die Wagner-gesin om te help met die mediese onkostes – in totaal ongeveer R12900.

Dit was vir my ‘n prentjie van ‘n geloofsgemeenskap wat by mekaar bly staan deur dik en dun. Ek het Jesus gesien in die manier waarop hulle hul omgee, tasbaar maak.

3.) Mense loop die ekstra myl.

In my vorige nuusbrief het ek ook gesê dat ons gemeente se finansies onder druk is. Sedert ons land tot “rommelstatus” geval het, het ons gemeente nog elke maand ‘n 16% agterstand op ons begroting beleef. Dit klink dalk nie na baie nie, maar die opgeloopte effek daarvan het ‘n groot effek.

Vry van enige manipulasie, het lidmate toe maandeinde slaan, diep in hulle sakke gekrap om die saak reg te stel. Ten spyte daarvan dat mense se persoonlike finansies ook onder druk is, was dit die eerste maand in hierdie boekjaar wat ons die teiken gehaal het.

Duidelik was dit die Heilige Gees wat mense oortuig het om by te dra – en duidelik was dit begroet met gehoorsaamheid. Ek het gesien hoe gelowiges wat sélf onder druk is, die ekstra myl loop sodat die gemeente se werk volhoubaar kan voortgaan.

4.) Wapens word neergelê.

Ek moes die afgelope week ‘n pastorale gesprek tussen twee partye fasiliteer. Omdat dit vertroulik is, wil ek uiteraard baie kripties wees sonder om in detail in te gaan. Wat ek wel kan sê, is dat daar ‘n ernstige skaad van vertroue was wat diep emosionele wonde gelos het.

En toe gebeur die onmoontlike…die twee partye kies om die wapens neer te lê en mekaar te vergewe. Ek het met my eie oë gesien hoe sagte harte, die hardheid van die lewe troef – hoe die wapens van Jesus – liefde en vergifnis – heling bring.

5.) ‘n Nuwe geboorte word aanskou.

Daar was ook hierdie week ‘n nuwe geboorte gewees. Ek praat níe van die soort waar ‘n babatjie uit ‘n Ma se baarmoeder gehaal word nie. Ek praat van díe soort waarvan Jesus vertel – ‘n “geesgeboorte” – oftewel ‘n “bekering”.

Dit is nie die tipe ding wat sonder ‘n kragtige werking van die Heilige Gees kan gebeur nie. Iemand kom immers oor van die duisternis na die lig! Net die Here kan so iets bewerk.

Dus, so tussendeur al die slegte nuus en spanning van ons tyd, moet ons onthou dat die Here aan die werk is. Hy is in ons midde…


  • 0

Nuus voor die wintervakansie

Category : Gemeentebriewe

Beste Witrivierder
Die kwartaal lê agter ons rug en die skoolvakansie wink! Dit was ‘n lekker besige kwartaal. As jy kinders op skool het, hoop ek vir jou part dat jy dit bietjie rustiger kan neem in die volgende week of twee van die wintervakansie. In ons gemeente gaan dinge egter onverpoos aan. Ek deel graag die volgende met jou sodat jy op hoogte kan bly…

1.) Slegte nuus oor ons sendelinge

Eers die slegte nuus: Ons sendelinge, Alfred en Belinda Paetzold, het slegte nuus oor Alfred se gesondheid gekry. Dit lyk vir ons of hy ‘n soort motor-neuron siekte opgedoen het. Óns wat vir Alfred-hulle persoonlik ken, is verslae oor hierdie verskriklike hartseer. Sal jy asseblief vir hierdie gesin bid? Hulle het soveel om nou te verwerk…

Alfred-hulle moet ook nou vanweë sy gesondheid uit Lichinga uit onttrek. Ek wil vrymoedigheid neem om te vra of ‘n gemeentelid nie dalk ‘n bakkie beskikbaar kan stel om hierdie gesin voor die 20ste Julie te help trek nie? Dit kan ‘n gewone 4×2 voertuig wees. Indien so iets binne jou vermoë is, sal ons dit ontsettend waardeer as jy ons sal laat weet. Reageer sommer op hierdie epos.

2.) Agterstand op ons begroting

Die ander stukkie slegte nuus is dat ons maandeliks ongeveer ‘n 16% agterstand op ons begroting beleef. Dit klink dalk nie veel nie, maar die opgehoopte effek daarvan in ‘n jaar, kan ‘n baie nadelige uitwerking op die gemeente se bedieningsmoontlikhede hê.

Om hierdie rede hou ons jou konstant op hoogte van die situasie. Baie dankie aan elkeen wat dankoffer gee – sonder jou bydra kan die gemeente nie funksioneer nie.

Aangesien slegs 29% van ons lidmate maandeliks ‘n bydrae maak, wil ek tog vra of jy – indien jy nog nie dankoffer gee nie – nie asseblief ernstig wil oorweeg of jy jou op hierdie manier aan ons gemeente wil verbind nie? Ons gemeente maak ‘n wesenlike verskil in mense se lewens, en jy kan ‘n aktiewe aandeelhouer daarvan wees.

Jy kan ‘n debietorder teken (Klik hier om een af te laai), of alternatiewelik kan jy ‘n direkte oorbetaling in die gemeente se rekening maak. Dit is:
• Rekeningnaam: Ned Geref Gemeente Witrivier
• Bank: ABSA
• Tak: Witrivier
• Takkode: 632005
• Soort rekening: Tjekrekening
• Rekeningnommer: 1370 580 002

3.) Uitreik na Mosambiek

Ons gemeente stuur hierdie skoolvakansie weer ‘n uitreikspan na Mosambiek (7-16 Julie). Die span bestaan uit sowat 18 mense (beide tieners en volwassenes). Dit is ‘n voorreg om so groot span uit te stuur om ons sendelinge, Jaco en Inge Le Roux, te gaan bemoedig en ook om sélf daar te gaan werk. Bid asseblief dat die span veilig sal reis – en veral vir Ds Eddie wat die span lei.

4.) Ester-konferensie in die Laeveld

Ons gemeente is bevoorreg om gekies te geword het as die gasheer van die Laeveld se Ester-konferensie. Dit vind Saterdag 5 Augustus by ons gemeentesentrum plaas, en Ds Elza Meyer sal weer die spreker wees. Kaartjies kos R150.

Vir navrae kan jy ‘n epos na ester@ngwitrivier.co.za stuur. Kaartjies kan by die kerkkantoor gekoop word, of alternatiewelik by Magda Coetzer by Carmel.

Dit beloof om soos voorheen ‘n sprankelgeleentheid te wees!

5.) Alpha kursus

Die Alpha-kursus begin weer eersdaags in ons gemeente. Hierdie kursus is bekend daarvoor dat dit mense se lewens omkeer. Klik gerus op die skakelom byvoorbeeld na die getuienis te luister van ‘n geharde krimineel wat deur die Alpha kursus tot bekering gekom het.

In ons gemeente skop die kursus Maandag 7 Augustus af. Dit is ideaal vir mense wat baie vrae oor die Bybel het. Registreer vir die kursus deur sommer op hierdie epos terug te reageer.

6.) Fliekaand

Kort na die skole weer begin het, skop ons nuwe kwartaalreeks af… Hierdie jaar, 500 jaar gelede, het die reformasie plaasgevind. Maar dit beteken nie dat die gebeure van die reformasie irrelevant is nie. Ons gaan in die reeks weer vars dink oor die rol van die Skrif in ons lewe asook die plek van genade en hoe geloof werk…

Om bietjie die historiese konteks van die reformasie te skilder, gaan ons as gemeente die film “Luther” saam kyk. Dit is ‘n aangrypende fliek – hou dus die aand van Dinsdag 8 Augustus oop. Die volgende dag is dit ‘n openbare vakansiedag. So, ons dink ons gaan daardie aand lekker as gemeente saam kan kuier en fliek. Meer daaroor later…

7.) Lente karnaval

Jong, en dan maak ons basaar plek vir ‘n lekker “Lente karnaval**! Dit gons behoorlik van entoesiasme oor hierdie nuwe verwikkeling.

Die datum van die karnaval is Saterdag 2 September en dit gaan op die Laerskool se sportgronde gehou word. Soos die tyd naderstap sal ons meer en meer info vir jou daaroor gee, maar maak seker dat jy dit nie mis nie. Die opwinding loop nou al hoog!

Terugskouend in ‘n sin of twee

Sommer net terugskouend wil ek vir jou sê dat ons die afgelope ruk baie geseënde kampe beleef het. Die Kom Word Nuut-kamp was uiters geslaagd en ‘n hoogtepunt vir elkeen wat saamgegaan het. So ook ons afgelope huwelikskamp by Nkambeni. Dit was ‘n baie lekker kamp en ons gaan dit beslis in die toekoms weer doen.

Dankie ook vir elkeen wat kos, klere en blikkieskos vir ons Knysna-verligting gegee het. Ons was verbaas oor die hoeveelheid middele wat ingekom het, so kort nadat ons ons eie “Stapel van hoop” insameling gehad het. Dalk het jy ook op Facebook die video gesien, maar ons eie koskas het onlangs 50 000 etes aan minderbevoorregte mense verpak.

Ek praat namens my kollegas as ek sê dat ons as leraars uiters bevoorreg voel om in so ‘n dinamiese gemeente te mag dien waar daar soveel dinge gebeur en soveel mense se lewens aangeraak word.

In Jesus

Nati Stander
(namens die leraars)


  • 0

Pinksterfees

Category : Gemeentebriewe

Beste Witrivierder

Dankie vir die afgelope week se heerlike kuier rondom die soppotte van ons gemeente! Dit was wonderlik om soveel mense by die Pinkster te sien.

Ek wil jou uitnooi om Sondag saam die Pinksterfees te kom geniet. Dit is die afsluiting van die tema: “Hoe hoor ons God se stem?” en Sondag kyk ons spesifiek na “Praktiese wenke hoe om God se stem rég te hoor”. Ons beplan ‘n spesiale formaat vir ons Pinksternagmaal asook vir ons Pinksterdankoffer.

Pinksterdankoffer is die jaarlikse geleentheid waartydens ons kans kry om ons dankbaarheid teenoor die Here te betuig. Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein jou bydrae is nie, wat saak maak is dat jy uit dankbaarheid gee. In die verlede was daar nog elke jaar mense wat op hulle koevertjies geskryf het dat hulle nie meer die finansiële vermoë het om by te dra nie, maar dat hulle harte vol dankbaarheid teenoor die Here is. En dít is die gesindheid wat belangrik is.

Die druk wat ons land se ekonomie tans op mense plaas kan nie weggesteek word nie. Ons sien dit in die finansies van huishoudings, besighede en ook in ons gemeente s’n. Ons omgeefonds waarmee ons mense help, trek ook al hoe swaarder.

Niemand verwag dus van jou om te gee wat jy níe kan nie. Gee net uit dankbaarheid, en ons vertrou die Here dat Hy elke rand en sent op die regte plek sal aanwend.

My kollegas het pertinent vir my gesê dat ek vir jou moet vra om met ons te praat as julle huishouding onder finansiële spanning is. As ons gemeente op enige manier kan help om die pot aan die kook te hou, doen ons dit graag.

Ons sien uit om Sondag sáám as gemeentefamilie bymekaar te wees. Sommige van ons tieners gaan ons help met die nagmaal, en ons kinders sit saam met hulle ouers in die erediens. Oud en jonk gaan dus almal bymekaar wees, en dit is altyd baie spesiaal.

Ek hoop van harte om jou ook daar te hê!

In Jesus

Nati
(namens die leraarspan)


  • 0

7 Nuusbrokkies voor Pinkster

Category : Gemeentebriewe

Beste Witrivierder

Ek sit tans in die bosveld en verlang dik stukke! Hierdie week bied ek Pinkster in Thabazimbi aan. Dit is mooi wêreld met wonderlike mense, maar ek mis ons gemeente. Terwyl ek hier sit, dink ek aan alles wat in ons gemeente afspeel en ek voel so bevoorreg om in Witrivier te mag dien.

Laat my toe om net gou so 7 sake onder jou aandag te bring.

1.) Hemelvaart

Donderdag 25 Mei vier ons Hemelvaart. Daar sal ‘n erediens wees om 18:30. Kom vier dit saam met ons geloofsgemeenskap. Dit is so belangrik dat ons viering van hemelvaart opbou tot ons verwagting van Pinkster.

2.) Hoe hoor ons God se stem?

Pinkster is my gunsteling tyd van die jaar. Tradisioneel is dit mos maar ‘n tyd wat ons opnuut uitkyk vir die Heilige Gees se werking in ons lewe. Die tema van hierdie jaar se Pinkster is “Hoe hoor ons God se stem?”. Dit is ‘n reeks wat jou gaan toerus hoe om die Here se wil in jou lewe te onderskei. Ek glo dit is lekker prakties en dat jy baie daarby gaan baat.

Tong in die kies wil ek egter sê dat die beste ding van Pinkster, die sop en broodjies is! Jy weet mos maar hoe kan die Witrivierders kos maak? Ek lek nou al my lippe af. Kom eet jou dus trommeldik so vanaf 17:30. Teen 18:30 kan jy die erediens met ‘n vol maag tegemoet gaan 🙂

Die Pinksterdienste begin Sondagoggend 28 Mei en hou aan tot Donderdagaand 1 Junie. Daar is ook in die oggende om 09:30 ‘n herhaling van die aande se temas, vir mense wat nie in die aande kan uitgaan nie.

Die tieners hou ook ‘n Pinksterreeks met dieselfde tema. Hulle eredienste is by die Hoërskool se Lapa om 18:00. Daar is ook gelyklopende Kinderpinksterin ons kerksaal, so moet dus nie voel dat jou kinders jou weerhou om die meeste te maak van hierdie spesiale tyd nie! Kom vier dit saam.

3.) Stapel van hoop

Een van die mooi gebruike in ons gemeente, is om tydens Pinkster – net so voor die winter in volle swang kom – ‘n spesiale poging aan te wend om klere en nie-bederfbare produkte vir ons barmhartigheidsbehoeftes in te samel.

Ek wil dus jou uitnooi om vanaf Sondag, regdeur die week tot en met Sondag 4 Junie, enige oortollige klere, skoene, komberse, toiletware en blikkieskos kerk toe te bring.

Sit dit asseblief neer voor op die liturgiese ruimte. Ons wil ‘n sigbare “stapel van hoop” opstapel!

4.) Ramadan

Saterdag 27 Mei begin die Moslems se Ramadan. Jy wonder seker: “Nou wat het dit met my te make?”. Wel, Ramadan is ‘n tyd waarin Moslems ernstig bid dat God Homself aan hulle sal openbaar. Elke jaar tydens Ramadan, gebeur dan ook die verstommende dat dorpies in hulle geheel dieselfde droom beleef…ja, jy raai reg: Jesus verskyn aan hulle! Elke jaar kom daar tydens Ramadan baie Moslems tot bekering!

Hier is ‘n skakel na een van die getuienisse van Moslems aan wie Jesus verskyn het. Onthou dus asseblief om tydens Ramadan te bid dat mense se geestelike oë sal oopgaan, en dat hulle Jesus sal leer ken. Daar sal ook Sondag ‘n spesiale gebedsfokus vir dié tydperk beskikbaar wees.

5.) Kom Word Nuut

Ek weet nie of daar nog ‘n bediening in ons gemeente is wat soveel mense se lewens al aangeraak het, soos die Kom-Word-Nuut-Kampe nie? Die volgende kamp vind 9-11 Junie plaas. Miskien het jy – of miskien weet jy van iemand – wat ‘n vars inspuiting in hulle verhouding met die Here nodig het. Dan is hierdie kamp net die ding. Bespreek by die kerkkantoor deur ‘n epos te stuur na heleen@ngwitrivier.co.za

6.) Huweliksnaweek

Die naweek van 23-25 Junie bied ons gemeente ‘n huweliksverrykingskamp aan. Nkambeni is ‘n luukse safarikamp in die wildtuin. Gewoonlik sal ‘n naweek daar ‘n paartjie oor die R4000 uit die sak jaag. Ons kry geleentheid om daar tuis te gaan vir slegs R2200 per paartjie vir die naweek, ontbyt en aandete ingesluit!! Dit beloof om ‘n onvergeetlike ervaring in die veld saam met jou huweliksmaat te wees. In ons sessies behandel ons style en tegnieke wat waarborg om jou ‘n vervulde huwelik te laat beleef. Vir meer info kan jy op hierdie skakel klik of vir my (Nati 0822163710) kontak. Daar is nog net vir 7 paartjies plek.

7.) Pinksterdankoffer

Ons groot jaarlikse Pinksterdankoffer vind Sondag 4 Junie tydens die nagmaalplaas. Ons doen mos altyd ‘n beroep aan mense om in Pinkstertyd uit dankbaarheid te gee oor wat die Here vir jou gee – en hierdie jaar is niks anders nie.

Ek wil vra dat jy jou laat lei deur die Heilige Gees oor wat jy kan gee. As jy jou in die afkondigings van die stand ons dankoffers vergewis het, sou jy gesien het dat ons tans so ietwat van ‘n agterstand op ons begroting het. Ons vertrou dat die jaarlikse Pinksterdankoffer dit sal regtrek.

Groete in Jesus

Nati
(namens die leraarspan)


  • 0

10 Nuusbrokkies vir April

Category : Gemeentebriewe

Beste Witrivierder!

Die skoolkwartaal het begin en ‘n wonderlike naweek wink! Hier is vir jou 10 nuusbrokkies om van kennis te neem.

1.) Biddag 22 April

As jy nie na Oom Angus toe kon deurry nie, maar jy het behoefte om steeds saam te bid, nooi ons jou om by die by Nelspruit Rugbyklub teen 11:00 in te val. Daar sal ook ‘n bidgeleentheid gehou word. Bring gerus jou eie stoel, kombers, sonskerm en drinkwater.

2.) Geen afkondigings

Een van die dinge wat vir jou hierdie kwartaal opmerklik gaan wees, is dat ons nie in die erediens afkondigings gaan maak nie. Ons loods ‘n eksperiment om te sien of dit wat ons gaan wen, nie dalk meer is as wat ons verloor nie. Hierdie kwartaal gaan ons dus ons toespits op die ander kommunikasiemediums tot ons beskikking.

3.) Nagmaal 23 April

Ons hoop ons sien jou komende Sondag 23 April wanneer ons saam nagmaal gaan vier. Sondag se tema is “‘n Nuwe Lewe!

4.) Omgeeleierskoling

Na afloop van komende Sondag se erediens sal daar ‘n kort toerustingsgeleentheid vir die leiers van ons omgeegroepe wees. Hulle sal materiaal ontvang om hulle te help met die fasilitering van groepe vir die twee weke voordat die nuwe kwartaalreeks begin – asook boekies vir die nuwe veldtog.

5.) Stad op die berg

Stad op die berg” is ons kontemporêre erediens om 17:00. Sondag se tema is “Wanneer grootword beteken om klein te word“. Almal is welkom!

6.) Laerskoolbediening

Sondag vier ons ook by die laerskoolbediening nagmaal. Die kleuters skakel ook by ons in die saal in. Ons nooi alle ouers om dit saam met hulle kinders te kom beleef. Soos gewoonlik kom almal eers in die gewone erediens byeen, vanwaar ons sal verdaag. Volgende week se langnaweek kortwiek ons ietwat, dus hervat ons die Odos lesse vanaf 7 Mei.

7.) Bluetooth 25 April

Dinsdag 25 April om 18:00 is dit weer geleentheid vir ons maandelikse ouerleiding. Ons nooi jou uit om te kom luister na die tema: “Hoe leer ek my kind studeer?“. Met die eksamens wat hierdie kwartaal wink, beloof hierdie sessie om baie relevant te wees.

8.) Lindie Strydom 6 Mei

‘n Glansgeleentheid ten bate van orgaanskenking vind op 6 Mei om 18:00 plaas. Lindie Strydom treë hier by ons op! Kaartjies kos R150 en sluit ligte verversings in. Kontak asb Marlene Basson vir meer info (0833906929).

9.) Huwelikskamp @ Nkambeni

Die naweek van 23-25 Junie bied ons gemeente ‘n huweliksverrykingskamp aan. Nkambeni is ‘n luukse safarikamp in die wildtuin. Gewoonlik sal ‘n naweek daar ‘n paartjie oor die R4000 uit die sak jaag. Ons kry geleentheid om daar tuis te gaan vir slegs R2200 per paartjie vir die naweek, ontbyt en aandete ingesluit!! Dit beloof om ‘n onvergeetlike ervaring in die veld saam met jou huweliksmaat te wees. In ons sessies behandel ons style en tegnieke wat waarborg om jou ‘n vervulde huwelik te laat beleef. Vir meer info kontak Nati (0822163710). Slegs beperkte plekke is beskikbaar.

10.) Uitvoerende bestuurder

Soos jy weet was ons gemeente die afgelope vier maande in die proses om ‘n uitvoerende bestuurder aan te stel. Die aanstellingskomitee was oorval deur uiters goeie aansoeke wat ‘n baie hoë standaard gestel het. Ons is opgewonde om aan te kondig dat Chris Claassens in die pos aangestel is, en vanaf 2 Mei 2017 ons gemeente se nuwe/eerste uitvoerende bestuurder gaan wees. Ons sien met ‘n groot verwagting uit na die waarde wat hy tot die span gaan toevoeg. Dra asseblief vir Chris aan die Here op, en bid dat die Here hom sal gebruik en seën in hierdie nuwe fase.

Dankie medegelowige vir jou tyd om jou gou te verwittig oor wat in ons gemeente gebeur!

In Jesus

Nati Stander
(namens die leraars)


  • 0

Hoe groei mens in jou verhouding met Jesus?

Wil jy ook in jou verhouding met die Here groei, maar jy weet nie aldag hoe nie? Wonder jy soms wat die volgende treë is wat jy in jou verhouding met Jesus kan gee?

olivyaz-jesus-Christ-sending-His-ApostlesDit lyk vir my of Lukas 10 ons in hierdie verband kan help. Lukas 10 begin met die woorde: “Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan” (vers 1)

Waarom Lukas 10?

Let net vir ‘n oomblik op die woordjie waarmee Lukas 10 begin. “Daarna” impliseer iets het dit voorafgegaan. Die gedeelte vooraf handel oor hoe Jesus gevolg moet word. Vanuit daardie dialoog, stuur Jesus die 72 uit. Die vraag oor hoe Jesus gevolg moet word, sluit dus baie aan by ons vraag oor hoe mens groei in jou verhouding met Jesus.

3 Opvallendhede in Lukas 10

1.) Die valse onderskeid tussen “hulle wat gaan” en “ons wat bid“.

Onder ons as Christene bestaan daar ‘n valse onderskeid tussen “hulle wat gaan” en “ons wat bid”. Dit lyk vir my eerder of Jesus volgelinge gevisualiseer het wat beide doen. Hy sê immers vir sy dissipels wat hy stuur om te “gaan”, dat hulle ook moet “bid”. Díe wat dus gáán moet ook bidders wees, en díe wat bid moet ook doeners wees.

Díe wat dus gáán moet ook bidders wees, en díe wat bid moet ook doeners wees.

Dit lyk vir my of die verskynsel wat ons vandag in die breë Kerk sien – naamlik dat ‘n paar betaalde amptenare direk en aktief die werk doen – terwyl die res van die gelowiges indirek en passief sit en toekyk, nie heeltemal is wat Jesus gevisualiseer het nie. Jesus het ‘n volgelingskap gevisualiseer waar elkeen ‘n besef het dat hulle geroep en getaak is.

2.) Die eenvoudige boodskap oor Jesus.

Die tweede opvallendheid is die boodskap wat hulle opgelê word. Die dissipels moet eenvoudig verkondig: “Vir julle is die koninkryk van God baie naby” (Luk 10:9). Vir ons is die term “koninkryk van God” nogal ‘n abstrakte term. Die beste een-sin-opsomming van wat die koninkryk van God behels, is dat Jesus die beliggaming van dit is. Hulle boodskap moes met ander woorde nie dogmatiek óf lyste van moets en moenies gewees het nie. Hulle moes nie ‘n sekere teologie verkondig nie, maar ‘n sekere Persoon.

3.) Volop emosie

Die derde ding wat mens opval is die hoë verskynsel van emosie in hierdie paar verse. Die mees ooglopendste is waarskynlik die blydskap van die dissipels toe hulle terugkom (Luk 10:17).

“Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom” (Luk 10:17)

Dit is mos altyd so! Mense wat God gesien werk het se harte is aan die brand gesteek met entoesiasme vir sy koninkryk.

Maar ons sien ook ander emosie in die teks – soos die blydskap van Jesus (Luk 10:21) en ook die somber waarskuwing van dreigende vervolging wat voorlê.

Maar dit is die emosie van dringendheid wat my die meeste opval. Die Afrikaanse Bybel vertaal die oorspronklike deur te sê “Gaan nou!” (Luk 10:3). In die gedeelte wat hierop volg, hoor die dissipels dat hulle nie eens skoene moet aantrek of tyd moet verspil deur mense te groet of kos saam te vat nie. Hulle moet onmiddelik gaan!

Waarom die haas? Waarom moes die dissipels so vinnig maak?

Mens sou seker kon redeneer dat hoe gouer die dorpe van Jesus te hore kom, hoe beter. Maar dalk lê die rede eerder by die dissipels. Hoe gouer jy reageer op Jesus se eise, hoe beter is dit vir jouself!

Jy sien ons is geneig om vir Jesus te sê: “Ek hoor, Here. Praat nog ‘n rukkie langer. Verduidelik ‘n nog ‘n bietjie meer.” Ons koop graag vir onsself tyd deur te maak asof ons nog nie heeltemal verstaan nie.

Maar Jesus verwag nie van ons om volleerd te wees voordat ons gehoorsaam hoef te wees nie. Daarom lei Jesus sy dissipels op deur vir hulle lering te gee en hulle dan “onvolleerd” uit te stuur (sien hoofstuk 9). Die dissipels keer terug, ontvang verdere lering en word dan weer  “onvolleerd” uitgestuur (hoofstuk 10).

Vir Jesus is dit belangriker dat ons gehoorsaam is, as dat ons alles verstaan.

En dit is hier waar baie van ons se verhouding met die Here op ‘n ander spoor beland. Baie van ons se kennis oor Jesus, is meer as ons gehoorsaamheid teenoor Hom.

As jou kennis oor Jesus méér is as jou gehoorsaamheid teenoor Hom, dan bevind jy jou op ‘n pad wat na skeinheiligheid lei. Dissipels is gehoorsaam aan Jesus, al verstaan hulle nie noodwendig alles nie

Onthou dit asseblief altyd: as jou kennis oor Jesus méér is as jou gehoorsaamheid teenoor Hom, dan bevind jy jou op ‘n pad wat na skeinheiligheid lei. Dissipels is gehoorsaam aan Jesus, al verstaan hulle nie noodwendig alles nie.

Wat is die volgende treë in jou verhouding met Jesus?

Ek sou wou aanvoer asseblief nie nog kennis nie! Kennis is goed en daar is ‘n plek daarvoor. Maar herontdek eers weer die dringendheid wat Jesus se volgelinge gehad het om te reageer op die eise van Jesus se dissipelskap.

Wat sê Jesus vir jou?

Waaraan kan ek gehoorsaam wees”, hoor ek jou vra. Stel jouself bloot aan die woorde van Jesus en kyk wat maak dit in jou hart los.

Austin-Sparks skryf in sy boek “The School Of Christ”, dat dit die andersheid van Jesus was wat mense so beïnvloed het. As hulle gedink het Hy gaan by die bruilof ‘n wonderwerk doen, dan doen Hy dit nie. As hulle gedink het daar is geen salf te smeer aan ‘n situasie nie, dan doen Hy ‘n wonderwerk. Jesus het die heeltyd anders opgetree as wat almal verwag het.

Austin-Sparks skryf

“…All the time He was putting them back and showing them how different were His thoughts, His ways, His ideas, His judgements; Altogether different.”

  • Ons sou dus goedskiks kon sê dat vir die persoon wat dink “ek het nie die gemeenskap van gelowiges nodig nie”, Jesus juis sê om deel van die groep te word. En vir die persoon wat dink dat hy/sy kan wegraak tussen die massa, roep Jesus vorentoe om op sy/haar eie voete te staan.
  • Die kultuur van ons tyd leer ons om inhalig te wees. Maar Jesus sê dat ons ons skatte elders moet bymekaarmaak.
  • Die media wil ons leer om te haat. Jesus se woorde eggo liefde.
  • As iemand ons te nakom, is ons eerste reaksie dalk om die persoon terug seer te maak. Die andersheid van Jesus roep ons op om eerder nóg ‘n keer te vergewe.

Mag die volgende stap in jou verhouding met die Here, dus nie nóg kennis wees nie, maar gehoorsaamheid.


  • 0

‘n Paar gedagtes oor die term “koninkryk van God”

Category : Geloofslewe

Soos jy teen hierdie tyd weet, is 2016 se jaartema vir ons gemeente die “koninkryk van God”. Ons wil graag in hierdie jaar die konsep van God se koninkryk op aarde deurtrap en lekker verstaan.

Dit is dan ook die doel van die meegaande video. My pad het op ‘n stadium met die teoloog N.T. Wright gekruis, en hy is ‘n persoon wat vir my baie beteken het – veral oor sy werk oor die opstanding van Jesus.

Maar N.T. Wright het ook heelwat te seg oor die koninkryk…kyk en geniet:


  • 1

My eerste 7 indrukke van NG Witrivier

logo kleur JPEGWat dink jy is ons gemeente se sterkpunte? Natuurlik het ons gemeente ‘n klomp tekortkominge en foute – maar wat is die dinge waarmee ons goed is?

Wel, ek is nou presies ‘n jaar in die gemeente. Die afgelope 12 maande het ek net dopgehou. Ek het fyn geluister en baie van ons gemeente se identiteit geleer.

Ek het genoeg gesien om te weet dat ons nie ‘n “perfekte gemeente” is nie. Maar ek het ook in die afgelope 12 maande gesien dat daar ontsettend baie positiewe aspekte van ons gemeente is. Eienskappe wat ek sou wou sê pluspunte van ons gemeente is. Kom ek noem vir jou net 7 van die vele wat my opgewonde maak…

1               Die rol wat die Bybel speel.

Die eerste ding wat ek hier in Witrivier raakgesien het, was die plek wat die Woord inneem. Daar is nie een – en ek bedoel nie een – vergadering wat begin sonder dat ons met Skriflesing open nie.

Nou dit kan vir jou miskien klink of dit net ‘n tradisie is wat mense uit gewoonte doen, maar wanneer jy self insit in een van hierdie vergaderings, kan jy sien dat mense dit doen omdat daar ‘n diep liefde en ‘n groot respek vir God se Woord is.

‘n Tipiese Skriflesing word op so ‘n manier gedoen, dat die geleentheid nie misbruik kan word om jou eie preek af te steek nie. In wese is dit die luistersiklus of ‘n vorm van “Lectio Divina” wat gevolg word omdat elkeen na afloop van die Skriflesing, kans kry om te deel wat hy of sy self uit God se Woord gehoor het.

Ek kon dadelik agterkom dat hierdie goed gevestigde gebruik, ‘n geslag lidmate grootgemaak het wat selfstandig met die Woord kan omgaan. Die deursnee lidmaat ken die Bybel, is nie afhanklik van ‘n predikant om hom/haar geestelik kos te gee nie, kan self die boodskap van ‘n teks interpreteer – en het geleer om ruimte te hê vir mense wat om dieselfde tafel sit, en wat iets anders by die Here hoor. Dit is myns insiens een van die gebruike in ons gemeente wat seker die grootste aandeel in die geestelike diepte van ons leiers het.

Skriflesing is in ons gemeente nie maar net ‘n “sleutel” om die eintlike vergadering mee “oop te sluit” nie. Dit neem op elke vergadering prima-tyd in beslag. Dikwels stuur dit besluite wat ons later in die vergadering moet neem – en in elke geval bepaal dit die stemming waarin die vergadering gaan geskied. Ek geniet hierdie gebruik van ons geweldig baie – mag ons dit nooit verleer nie.

2               Gemeentelede wat eienaarskap vat.

Een van die groot dinge wat my ook opgeval het, is die vlak van eienaarskap wat lidmate vir hulle bediening hier in Witrivier neem. Wanneer ‘n predikant by ‘n bediening se vergadering opdaag – is daar ‘n baie goeie kans dat hy nie die opening gaan behartig nie, nie die voorsitter gaan wees nie, en ook nie die agenda gaan bepaal nie.

Dit is omdat ons gemeente al etlike jare gelede wegbeweeg het van ‘n herder-kudde-model, na die Nuwe Testamentiese liggaamsmodel van kerkwees. Hiervolgens het lidmate nie meer ‘n Mosesfiguur van wie hulle afhanklik is nie. Elke gelowige is koning, priester en profeet en het ‘n unieke rol in die liggaam te speel.

Ja, die predikante het ‘n bepaalde leierskapstaak. Ons help met die visioenering en om die koers van die gemeente te bepaal – maar dit is die gewone lidmaat wat sy of haar amp as gelowige opneem wat die deurslag gee. Omdat lidmate ander medegelowiges in omgeegroepe versorg, hospitale besoek, hulle tegniese agtergrond in eredienste aanwend, hul finansiële kennis in die bestuur van die gemeente gebruik, of hul kunsinnigheid in ‘n kwartaaltema se veldtog stort, bereik ons saam baie meer as wat ons sou as alles net van die dominee afgehang het.

3               Die klem op diensgeleenthede.

In ons gemeente is ons vas oortuig dat om te dien, die enkele grootste katalisator van geestelike groei is. Om hierdie rede beklemtoon ons die belangrikheid daarvan om doelbewus geleenthede te soek waar jy iemand se “voete kan was”.

Ja, daar is natuurlik mense in ons gemeente met ‘n “verbruikersmentaliteit” wat net kom kyk wat die kerk vir hom of haar kan bied. Maar hoe nader jy aan die kern van ons gemeente beweeg, hoe meer tref dit jou dat lidmate wat wil groei, diensgeleenthede soek. Die diens kan enige vorm aanneem: van bejaardes besoek tot begrafnisbroodjies smeer. Hulle weet solank as wat hulle dit kan doen asof hulle dit vir Jesus doen, gebeur daar iets in hulle. Dit is tot so ‘n mate dat mens net meer en meer onder die indruk kom dat as ons lidmate van diensgeleenthede ontneem, ontneem ons hulle van groeigeleenthede.

Dien loop natuurlik hand aan hand met mense se passies. Moenie asseblief nie dink dat die Here ons net altyd op ‘n plek wil gebruik waar ons nie wil wees nie. Inteendeel, dikwels is dit juis die sake waaroor jy passievol voel waar Hy jou die meeste kan gebruik. En om hierdie rede sien ek ook raak dat ons gemeente mense se passies ernstig opneem. Dikwels ontstaan daar rondom ‘n passie, ‘n bedieningsveld.

4               Die plek van diversiteit

So divers as wat mense se passies is, so uiteenlopend is hulle spiritualiteit. En dit val my op dat ons gemeente plek maak vir elkeen.

Ons mense kom uit verskillende teologiese agtergronde. Die hele spektrum van gereformeerdes tot charismatici sit in ons banke. Dieselfde geld vir mense se moedertale en uiteenlopende politieke oortuigings.

Verskillende mense aksentueer verskillende uitgangspunte in hul verhouding met die Here. Vir party is sekere kwessies meer belangrik as ander. Elkeen beleef en hoor die Here uniek. En weet jy wat is so lekker daarvan: Dis ok!

Die lekker van ons gemeente is dat daar plek is vir elkeen. Ons akkomodeer “andersheid”. Dit is wonderlik om te sien hoe ‘n gemeente nie verskille bedreigend beleef nie, maar eerder stimulerend. Dit veroorsaak ‘n bruisende onvoorspelbare kreatiwiteit wat hoogs opwindend vir my is! Omdat alles nie beheer en gereguleer word nie, heers daar ‘n spontane vryheid. Wat my opgewonde maak is dat daar dikwels juis in sulke soepel omgewings, ‘n vars beweging van die Heilige Gees losbreek wat jou verras!

Maar dit is nie net verskillende spiritualiteitsbelewenisse van lidmate wat aanvaar word nie. Ook die verskeidenheid van ander Christelike kerke en organisasies word omhels. Omdat ons gemeente nie bang is om met medegelowiges van ander kerke en organisasies saam te netwerk nie, ontstaan daar ‘n kragtige synergie. Saam bereik ons veel groter hoogtes, as wat elkeen op sy eie aanploeter.

5               Die ontploffing van omgeegroepe.

Ek merk dat een van die hooffokusareas van ons gemeente, ons omgeegroepe is. Dit is in omgeegroepe waar lidmate vriende word. Dit is hier waar mense warmte ervaar. Dit is geen wonder dat omgeegroepe in ons gemeente die primêre rol in die versorging van lidmate speel nie.

Nodeloos om te sê beteken dit ook dat die werk wat met omgeegroepe verbandhou, ‘n hoë prioriteit is en baie tyd in beslag neem: die beplanning van kwartaalreekse, die ontwikkeling van materiaal, die kreatiewe uitwerk van geloofsmomente, die mobilisering van nóg ‘n veldtog…

So baie energie wat in omgeegroepe gestort word, moet dus ook noodwendig groei tot gevolg hê. Daarom sien daar met bykans elke reeks, nuwe omgeegroepe die lig. Op die oomblik is ons sterk oppad na 60 omgeegroepe in ons gemeente!

Ek sien dat omgeegroepe die voertuig van idees in ons gemeente is. Dit is die medium waardeur mense bereik word. En lidmate weet dit ook. Ek merk op dat sodra iemand ‘n volgende tree in hulle verhouding met die Here wil gee, hulle vra of daar nie dalk ‘n omgeegroep is waar hulle kan aansluit nie. Ek wil dit waag om te sê dat ons grootste groeipunt in die toekoms, hier lê.

6               Hoe visioenerende leierskap lyk.

Ek het vinnig agtergekom dat my rol in Witrivier baie anders gaan lyk as in my vorige gemeente. Hoewel ek uiters gelukkig was in my vorige gemeente, het die grootste deel van my werk daar uit pastoraat, huis- en siekebesoek bestaan. Daar was natuurlik ook prosesse en projekte waarvoor ek pa gestaan het, maar dit was ‘n baie kleiner komponent van my werk. Dit was bloot die rolverwagting waarin ek my bevind het en die eise van wat op daardie stadium in die gemeente nodig was.

Toe ek in Witrivier instap, was dit presies die teenoorgestelde. Hier moet ek uiteraard ook lidmate pastoraal versorg – maar die grootste komponent van my werk hier het met bestuur- en leierskapsfunksies te make.

Maar dit is nie net die predikantsrol wat so lyk nie. Ons gemeenterade is ook vir hierdie doel so gestruktureer. Die dagbestuur is gerat vir vinnige besluitneming en die kerkraad om visionêr leiding te gee. Die kerkraad verstaan hulle rol in terme van die beskrywing van die Issaskarstam: “die Issaskarstam, die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan” (1 Kron 12:32). Hierdie is die hart van visionêre leierskap.

Ons rol is nie om die “status quo” te handhaaf nie. Daar is heeltyd ‘n doelbewuste beweging vorentoe. Op die oomblik is ons gemeente juis weer besig met ‘n visioeneringsproses waar ons 4 fokusareas wil beklemtoon, wat ons glo die Here op ons gemeente se hart druk. Ek deel meer hieroor met jou in ‘n volgende inskrywing.

7               Die hegte leraarspan

Elke nuwe lidmaat kry waarskynlik nie dadelik te make met al die leraars nie, en daarom sal hierdie punt dalk nie vir almal ewe opvallend wees nie. Maar is dit definitief een van die groot pluspunte op my lysie.

En nee, ek byt nie op my lip terwyl ek dit skryf nie! Die waarheid is dat ons as leraars (met ons gesinne) elke week saam eet omdat ons vir mekaar lief is. Ons bid saam, dink saam, beplan saam, vergader saam, besluit saam, doen saam. Mens loop seker die gevaar dat ons te veel tyd dupliseer omdat ons alles saam doen, maar dit is vir ons lekker om by mekaar betrokke te wees.

Ja, ons het verskillende persoonlikhede. En natuurlik het elkeen van ons ons eie teologiese klem, maar ons vul mekaar wonderlik aan. Daar is ‘n wedersydse blindelingse vertroue in mekaar se motiewe. Dit is nie noodwendig vir elke lidmaat ewe belangrik om te weet dat die leraars met mekaar goed oor die weg kom nie, maar vir my is dit ononderhandelbaar.

Maar nou is die vloer joune. Vertel vir my wat dink jy is ons gemeente se pluspunte. Wat sou jy sê is die dinge waarop ons in ons gemeente kan voortbou?


Soek ‘n sleutelwoord:

Klik om na preke te luister

Ons kan jou help om deur jou Bybel te lees in net 3 jaar. Klik hier vir meer inligting.

Waar kan ek dien?

Om te dien is een van die heel beste maniere om geestelik te groei. Klik hier vir 'n lys van plekke waar jy jou voorskoot kan aantrek.

Hoe word ek deel van ‘n omgeegroep?

Daar is min dinge wat jou verhouding met die Here so goed kan doen, soos om aan 'n omgeegroep te behoort. Vind uit hoe jy dit kan doen!

‘n Nuwe Reeks!

God vertrou my!May 7th, 2017
Die groot dag het aangebreek

Kerkkantoor

0137511644
Maandae - Donderdae: 08:00-13:00
Vrydae: 08:00-12:30
Sondae na afloop van die oggenddiens

Kaart na ons gemeentesentrum