Sekerheid in onsekerheid

Ek het op ‘n keer as kind in die see geswem en is toe deur ‘n seestroom meegesleur. Ek sal nooit daardie vorentoe en agtertoe beweging vergeet nie. Ek span al my kragte in om strand se kant toe te beweeg – en by tye voel dit asof die see my ook soontoe stoot. Maar dan skielik trek die stroom weer terug en voel dit asof ek met nog groter vors as voorheen die see ingetrek word. Heen-en-weer, heen-en-weer.

Die afgelope ruk speel daardie herinnering baie in my gedagtes weer uit. Dit voel byna of mens in hierdie tyd van inperking in dieselfde situasie is. Die skole mag oop. Ons is een tree nader om weer grond onder die voete te voel. Dan mag dit weer nie oopmaak nie. Skielik is alles weer onseker.

Dalk beleef jy dieselfde heen-en-weer skommeling in jou gemoed? Dalk het jy dieselfde hunkering om te voel ons beweeg daadwerklik vorentoe, en nie eers weer 2 treë agtertoe nie.

In die week bid ek en Lindie saam, en sy bid: “Dankie Here dat U in tye van onsekerheid, ons sekerheid is. U is altyd dieselfde – gister, vandag tot in ewigheid”. Sy haal natuurlik Hebreërs 13:8 aan.

Haar woorde het my getref en daarom deel ek dit vanoggend ook met jou. Mag jy in ‘n tyd wat dit vir jou voel of jy nie grond onder jou voete het nie – standvastigheid by die Here vind!

In Jesus
Nati Stander

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *