Die beste en slegste tyd ooit

Liewe Witrivierder

“It was the best of times and it was the worst of times”. Dit is hoe Charles Dickens sy klassieke boek “Tale Of Cities” mee begin – en dit is ook hoe dit hierdie tyd van COVID-19 vir my voel.

It was the best of times

Lanklaas het die liggaam van Jesus (die Kerk) so ‘n unieke geleentheid gehad om só groot verskil te maak. En ons gemeente het hierdie geleentheid met albei hande aangegryp!

Dit sal vir jou lekker wees om te weet dat ons in die afgelope 25 dae…
1.) al meer as 2555 etes versprei het.
2.) ons gemeente deur die Omgeefonds en Koskas, die kos wat ons vir bejaardes voorsien, en die kospakkies wat ons by mense aflaai, ‘n R100 000 in Witrivier teruggeploeg het!

Ek weet van geen politieke party, besigheid of selfs ’n ander nie-winsgewende organisasie wat kan sê dat hulle in ‘n maand se tyd, R100k in Witrivier gestort het om kos op mense se tafel te sit nie. Óns gemeente is in die bevoorregte posisie om dit wel te kon doen.

Wanneer die Kerk werk, is daar geen mooier prentjie nie. Dit is wat Jesus sou wou sien.

It was the worst of times

Tog is dit ook “the worst of times”. Dit is hartverskeurend om die nood van mense te sien. Ek was onlangs by mense om kos af te lewer. Toe ek daar aankom sou ek verneem dat hulle water en ligte ook al afgesny is en dat hulle op ‘n vuur moet kos maak. Dit is ontstellend om te sien hoe ouers hulle kindertjies probeer beskerm van hulle eie finansiële spanning, as hulle weet dat daar nie geld is om mee kos te koop nie.

Dit is ook vir my sleg om te weet dat ons onmoontlik R100k ‘n maand op hierdie probleem kan aanhou gooi. Dit is nie volhoubaar nie, want die gemeente het nie daardie tipe geld nie.

Ons eredienskollekte het vir alle praktiese doeleindes tot ‘n stilstand gekom en ons maandelikse dankoffer het ook ‘n erge knou gekry, bloot omdat mense nie in staat is dankoffer te gee nie. Op die oomblik is ons tekort R183 716.

Om te verseker dat die werk wat gedoen moet word voortgaan, is daar ‘n paar prinsipiële besluite gemaak:
1.) Ons het byvoorbeeld die geld wat vir die Mosambiekuitreik begroot was, nou geherallokeer sodat ons in Witrivier, kos op mense se tafel kan sit.
2.) Die predikante het ook vrywillig ‘n inperking op hulle salaris geneem om die wiel aan die draai te hou.

Dit is alles egter net ‘n uitstel van die probleem, as daar nie dringend ook weer geld inkom nie.

Die manier hoe ons werk

Jy weet teen hierdie tyd hoe dit in ons gemeente werk. Niemand word geforseer om dankoffer te gee nie. As jy nie in staat is om nou dankoffer te gee nie, moet jy weet dat jy vrygespreek is van enige veroordeling. Die Here verwag níe van jou wat jy níe het nie (2 Kor. 8:12).

Maar ons wil vir jou vra dat as dit enigsins in jou vermoë is om te gee, dat jy jou dankoffer by ons gemeente sal gee. Kyk gerus na die meer in diepte analise van wat ons die afgelope maand vermag het, deur op die onderstaande skakel te klik.

Ek kan met vertroue sê dat jy gaan sukkel om ‘n instelling te kry wat hierdie gemeente kan nadoen. Jy kan wéét dat jou dankoffer ‘n vêr ent sal gaan en op die regte plek gebruik gaan word.

Dankie dat ek vrymoedigheid kan neem om op so ‘n deursigtige manier met jou oor hierdie saak te praat. Dit is immers ook jóú gemeente.

In Jesus

Nati Stander (nms die leraarspan)

KLIK HIER OM TE SIEN VAN ONS GEMEENTE EN COVID-19

KLIK HIER OM DANKOFFER TE GEE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *