Sendelingnuus 23 Feb

Boetie & Gretha Louwrens skryf

Liewe Vriende

Wat ’n voorreg om deel te wees van 2020 en dat ʼn mens ook met verwagting kan uitsien na wat die nuwe jaar sal bring. Die woord “HOOP” is mos waaraan ons kan vashou soos wat dit so op ʼn besondere manier beskryf word in Hebreërs 12.

Besoek aan Witrivier

Ons was bevoorreg om die Petra-personeelweek in Witrivier te kon bywoon. Dit was ‘n besonder insiggewende, inspirerende en geseënde tyd. ‘n Mens besef maar net dat alhoewel die desentralisasie nie gemaklik is nie, dat dit Petra Instituut baie momentum gegee het. Ons loof die Here daarvoor. Die ry vanaf die Kaap en terug was maar erg op ons lywe maar om as groep saam te ry uit die Kaap was ook goed vir eenheid en om ook mekaar as span beter te leer ken.

Werksgewys!

Ons sien uit daarna om weer die fondswerwing aan te pak en die program van besoekpunte of telefoniese oproepe en ander kommunikasie te kan kombineer. Ons werk ook aan nuwe strategieë om meer effektiewe digitale bemarking te kan doen.

Buiten Gretha se verantwoordelikhede help sy ook tans om sekere middae terapie te doen met kinders. Bid asseblief vir ekstra krag, energie en wysheid daarvoor.

Gebedspunte:

U Loof die Here vir Sy voorsiening aan ons op elke gebied. Ons is veral dankbaar vir getroue fondsondersteuners wat te midde van baie druk steeds getrou hulle bydraes aan Petra doen en ook vir die goeie gesindheid waarin ons ontvang word. Ons bid dat die Here elke ondersteuner op ‘n besondere wyse sal seën.

U Bid asseblief vir goeie beplanning en bestuur vir 2020 sodat ons die fondswerwing en opleiding steeds effektief sal kan doen.

U Ons huur tans ‘n huis in ‘n kompleks maar dit is op die langtermyn nie die beste opsie nie. Bid asseblief dat ons ‘n bekostigbare woonplek sal kan koop wat vir ons gemaklik en gerieflik sal wees ( as dit ‘n mooi uitsig kan hê sal dit vir ons ‘n groot bonus wees!)

U Ons is dankbaar om te kan sê dat dit goed gaan met ons kinders. Ons is veral dankbaar dat Hy Riaan en Elsabe bewaar het gedurende die tyd wat hulle in Irak was en dat hulle ook veilig kon uitkom. Hulle beplan om weer vanaf Maart terug te gaan na Taiwan om daar onderwys te gaan gee. Mag Hy hulle ook op ‘n besondere manier daar gebruik.

U Bid ook asseblief dat ons ‘n gemeente sal vind waar ons kan inskakel en ‘n verskil kan maak – ons het regtig ‘n geestelike tuiste nodig.

Baie dankie vir julle getroue ondersteuning aan ons.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *